Landelike veiligheid
276 subscribers
165 photos
94 videos
15 files
756 links
Hierdie groep vra geen intekenfooi nie. Hier praat ons oor veiligheid, nie oor politiek of ander ouens se planne teen ons nie maar spesifiek oor self beveiliging. Ons sal praat oor geloof, Geloftedag, Christenskap en gebed
Download Telegram
Maandag 25 Maart 2024

Môre

Daagliks hammer ons op vroeë waarskuwing stelsels, hoe meer tyd jy het om te reageer hoe beter is dit vir jou.

Jou vroeë waarskuwing stelsel moet ook aan wees wanneer jy bedags binne jou huis is en nie aktief jou omgewing om jou huis kan monitor nie.

Wees ook waaksaam teen oop vensters en veral saans gordyne wat oopgelos word. Ja dit is baie warm en die koel bries is aangenaam maar weet net as jy in daardie verligte vertrek staan is jy letterlik honderde meters ver sigbaar.

Ek het al voorheen vertel van die huis wat ek besoek het waar geen gordyne voor die vensters is nie. Die mense kon nie verstaan hoe die misdadigers altyd geweet het waar hulle is en wanneer daar niemand tuis is nie. Eers toe ek die gordyn onderwerp aanraak en hulle vertel dat iemand honderd of meer meter van die huis in 'n bos kan sit en die plek kan dophou het hulle besef wat aan die gang is.

Saans, na sononder, maak mens maar liefs jou gordyne toe, jy sorg dat dit nie deursigtig is van buite nie en ook dat jy nie onnodig goed soos TV's, rekenaars ens voor oop vensters adverteer nie. Dit geld natuurlik vir gedurende die dag ook.

Waardevolle items wat buite die huis rondlê waar dit maklik bereikbaar is, is ook 'n groot aantrekkingskrag. Mens besef nie altyd nie maar iemand loop op 'n plek vanwaar hy of sy dit kan sien en die versoeking raak net te groot.

Wees dus waaksaam, bêre hoë waarde items soos bv tuingereedskap, gewone gereedskap ensomeer weg, uit die oog uit die hart.

Dink soos 'n misdadiger, as jy honger is en jy moet geld in die hande kry, dan word 'n graaf, vurk selfs bossiekapper 'n groot aantrekking. As die ding nou nog op 'n plek lê waar dit maklik bereikbaar is, is dit 'n bonus. Natuurlik gaan jy die kans waag, veral as jy weet die kans om gevang te word is skraal.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 26 Maart

Môre

Die meeste wat mens kan en behoort te doen ten opsigte van veiligheid is eintlik maar algemene kennis. As jy sou kies om jou duur en waardevolle items uit te stal of oop en bloot te los waar almal dit kan vat, moet jy mos maar bereid wees om dit te verloor?

Wanneer jy jou tuingereedskap soos grawe, vurke, pikke, byl ens buite laat rondlê, kan jy verwag om een of ander tyd daarmee aangeval te word. Sou jy boonop versuim om jou motor te sluit, die sleutels uit die motor te verwyder en dan nog jou lyndrade ook nie in stand hou nie, nou ja dit is alles maar net 'n resep vir mislukking.

Wanneer ek die berigte oor plaasaanvalle lees, is die een ding wat my opval die feit dat in meeste gevalle is die slagoffers verras. Hulle was besig om te eet, TV te kyk, slaap toe hulle die volgende oomblik iemand in die huis opmerk.

Dit sê vir my die slagoffer het geen of min voorbereiding gedoen vir die moontlikheid van 'n aanval. In sommige gevalle was daar vroeë waarskuwing stelsels in plek maar dit was nie aangeskakel, effektief onderhou of korrek geïnstalleer nie.

Ek kry gereeld foto's van insidente waar mense se elektriese heining geknip is, en geen alarm gemaak is nie. Dit dui daarop dat daardie heining nie reg bedraad is nie of bloot nie aangeskakel is nie.

Kameras word weggedraai of bedek met allerlei lappe, sakke ens tydens 'n inbraak, m.a.w. die kameras is nie so geïnstalleer dat dit mekaar kan dophou nie en ook dat geen beweging/ menslike deteksie geaktiveer is nie.

So kan ek aanhou met voorbeelde. Die krux is dat mens jou plek eerstens moet netjies en skoon hou, bêre goed wat rondlê, items wat as wapens aangewend kan word moet weggesteek word agter slot en grendel, hetsy in 'n stoor of toegewysde vertrek.

Jou huis moet 'n geslote boek wees vir mense wat van buite inkyk, gordyne moet toe wees snags en goed soos TV's , rekenaars ens se skerms moet nie sigbaar wees van die vensters af nie. Dit kan snags kilometers ver gesien word.

Jou huismense moet voortdurend daarop attent gemaak word dat deure en veral veiligheidsdeure permanent gesluit moet wees en bly.

Moenie uit jou huis gelok word deur enige onverklaarbare gebeure buite of selfs nood roepe van werknemers nie. Alle insidente buite jou huis moet altyd as verdag beskou word totdat die teendeel bewys is. Kry liewer hulp van buite in om ondersoek in te stel.

Wees liewer versigtig as wat jy jouself blootstel

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 27 Maart

Môre

Wanneer jy 'n veiligheid stelsel laat installeer, beteken dit nie dat dit nou oor en verby is nie. Die stelsel kan baie effektief wees maar jy sal altyd vind dat daar skuiwergate in daardie stelsel is.

Jy sal bv vind dat 'n elektriese heining op een of twee plekke dalk oorbrug word deur 'n plant of struktuur wat dit moontlik maak vir iemand om oor die heining te kom, of dat daar dooie kolle in die deteksie area van 'n sensor is. Dit is heeltemal normaal maar jy moet dadelik aandag gee aan so skuiwergat. Moet dit nie ignoreer nie!

Jy moet deurlopend jou veiligheidsstelsels toets en ondersoek vir moontlike swak punte. As jy steeds geen stelsels in plek het nie, moet jy nou baie dringend plan maak. Ons kan nie nou meer sonder vroeë waarskuwing leef nie, in ons era is dit nie prakties nie.

Weet hoe om jou stelsel/s te gebruik en leer ook jou huismense om dit te gebruik. Vermy egter om jou bure, vriende, bediendes, tuinwerkers ens al die fyner puntjies van die stelsel uit te wys. Dit is 'n risiko wat jou duur te staan kan en gaan kom.

Wees ook versigtig vir wie jy toegang gee tot die bestuur van jou stelsels. Baie van die nuwer toerusting kan via die internet geadministreer word deur bv die installeerder. Hoewel dit goed is, kan mens nie goedsmoeds toegang tot hierdie stelsels gee nie. Weet vir wie en waarom jy toegang gee tot stelsels.

Groete

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 28 Maart 2024

Môre

Ek wil vanmôre 'n lansie breek vir die manne wat veiligheidsstelsels installeer. Of jy dit nou wil weet of nie, hierdie is meestal mense met harte wat oop is vir hul gemeenskappe. Natuurlik is daar diegene wat net daarin is vir geld, dit is die ouens wat vroegoggend hul "spanne" aflaai en dan vir die dag verdwyn. Vir hulle moet mens maar versigtig wees.

Maar die outjies wat alleen werk, geen handlangers het en wat hul bes probeer om elke kliënt persoonlike aandag te gee, dit is die manne wat jy moet koester. Pas hulle op, staan hulle by want dit is in meeste gevalle die persoon wat jou belange op die hart dra.

Dit is die outjie wat jy Saterdagaand 19:00 kan bel en wat jou oproep gaan neem, of jou ten minste gaan terug skakel. Dit is die outjie wat permanent besig is omdat hy/ sy hul beste doen om almal te help. Dit is die ou wat jou sal afraai van 'n produk of diens bloot omdat dit nie by jou of vir jou toepassing gaan werk nie.

As jy so outjie in jou lewe het, meer nog as so outjie vir jou werk, wees baie geduldig. Hulle is sout van die aarde mense met baie talent. Dit is manne en dames wat regtig omgee, wat die ekstra myl stap en wat enige tyd bereid is om te help.

Ek sluit af vandag, sterkte vir die naweek wat voorlê. As jy gaan reis, wees asseblief versigtig. Pas jou mense op, pas mekaar op en kom asseblief veilig terug. Gedenk hierdie groot Christen gebeurtenis met die regte gesindheid, ons almal weet dit is nie 'n dronk word leeglê partytjie naweek nie.

Tot ons DV volgende week weer gesels, groete

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 28 Maart 2024

Môre

Ek wens elke lid 'n geseënde Goeie Vrydag.

Dawie Conradie
Maandag 1 April 2024

Môre

Met baie van ons mense wat vanmôre die terugtog aanpak dink ek dit is gepas om bietjie oor voertuig sekuriteit te gesels.

Soos julle weet was ek ook onlangs die slagoffer waar duisende rande se gereedskap uit my voertuig verwyder is. Later sou ek toe agterkom ek is nie alleen nie en dat verskeie ander persone ook al deurgeloop het hier in ons dorp.

Op Youtube sien ek die naweek dat dit baie algemeen is. Met die dat dashcam so populêr word sien mens al meer mense wat slagoffers raak en die manne wat die misdade pleeg is besonder dapper. So sien ek ouens wat doodluiters op 'n voertuig afstap, die agterdeur oopmaak en selfone en ander waardevolle items by kinders gryp en dan weer wegstap.

Ek sien ook baie ouens wat uit hul voertuie klim en probeer maar omdat jy in die verkeer sit, in 'n besige kruising of pad, is daai ou so vinnig weg dat jy amper geen kans het nie.

Hier en daar sien ek mense wat lekker wakker is en die misdaad vryspring maar dit is werklik een uit 30 of selfs meer.

Mense maak seker jou motor deure is te alle tye gesluit. Maak ook seker jy het een of ander vorm van "smash n grab" op jou vensters want dit is ook baie gewild om ruite uit te slaan en goed te gryp.

Bere jou duur en waardevolle items weg, veral waar jy op vreemde plekke beweeg. Alles lyk rustig en stil maar hierdie ouens is opportuniste van formaat en steel so fyn.

Ek moes maar sekondêre planne maak met my bakkie se kappie en dit gaan ook net as afskrikmiddel dien vir 'n rukkie dan gaan die ouens daar ook 'n ander plan maak.

Namate ons nader aan die verkiesing kom gaan dinge baie erg begin raak en ons sal moet bontstaan om hierdie misdaad te fnuik. Wees wakker en oplettend, vermy hoë risiko areas, verlaat jou risiko tot die minimum deur net die absoluut noodsaaklike items in jou voertuig te hou. Leer jou kinders om nie met selfone en ander tegnologie oop en bloot agter in jou voertuig rond te ry nie.

Dink prakties, as die misdadigers nie die goed kan sien nie kan julle dit nie steel nie, as jy nie anders kan nie maak 'n kluis in jou motor vas en bêre die goed daar.

Sterkte, ry veilig

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 2 April 2024

Môre

Ek merk dat voertuig kapings en diefstalle die laaste paar weke nogal erg toeneem. Wat vir my vreemd is, is dat die deurvoer van inligting stadig is. Selfs in dieselfde dorp, neem dit ure om gesteelde voertuig op al die betrokke groepe te sirkuleer.

Die ander ding wat ek ook opmerk is dat daar skielik 'n tendens is om nood boodskappe oor al wat 'n Whatsapp, telegram ens groep te wil pleister. Of dit nou die gebedsgroep, koop en verkoop, verkeer of buurtwag groep is, mense wil oral laat weet.

Hoewel mens graag die maksimum blootstelling wil hê, moet jy ook onthou dat te veel blootstelling ook nie goed kan wees nie. Iemand het mos hoeka gesê enigiets met 'n te vooraan is nie goed nie behalwe tevrede..

So al wil mens op al wat 'n groep is plaas, moet mens maar bietjie selfbeheersing aan die dag lê om nie die effektiwiteit van jou boodskap te laat verlore gaan nie.

Dan baie belangrik, daar is sekere basiese inligting wat mens moet sirkuleer in geval van 'n gesteelde voertuig:

Fabrikaat
Model
Kleur
Registrasie
Kenmerke soos duike, krapmerke ens
Tyd wat die voertuig geneem is
Opsporingstelsel
Is die diefstal/ kaping aangemeld

Dit is maar van die goed wat mens so gou moontlik moet uitkry. As jy nou nog kan sê min of meer watter rigting die voertuig gegaan het, of daar ander voertuie betrokke was met beskrywing en as jy dalk kan beskrywing van die ouens wat hom geneem het kan gee.

Laastens, wees bedag, die Engelse praat van situational awareness, wees bewus van dinge om jou, verdagte persone, voertuie, optrede.

Laastens, wanneer dit regtig nodig word onthou, jou voertuig, hoe waardevol ookal, kan ook 'n wapen wees, veral in geval van 'n kaping of gewapende roof.

Sterkte vir die week wat voorlê en onthou, skerp jou sintuie op

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 3 April 2024

Môre

Sodra mens begin om vroeë waarskuwing stelsels om jou plek op te sit, sien jy 'n verskil in die gedrag van misdadige elemente in die omgewing.

Ek het nou al telkemale agtergekom dat waar ek bv kameras instaleer, skuif die roetes wat misdadigers gebruik om 'n plek. Ek kan maklik voorbeelde noem hiervan. Hoekom sal ek dan nie belê in hierdie tipe stelsels nie?

My ondervinding is ook dat mense wag tot die groot moeilikheid hul tref voordat hulle plan maak. Ek word gereeld gevra om kwotasies te doen t.o.v vroeë waarskuwing net om dan te hoor dit is te duur.

Sodra hierdie persoon dan misdaad beleef wat bietjie naby sy gemaksone kom, dan word my prys skielik billik en moet die werk so gou moontlik gedoen word.

Mens moet maar net besef dat enige vroeë waarskuwing gesien moet word as 'n belegging, in jou veiligheid, gemoedsrus en welstand. Elke vroeë waarskuwing stelsel wat ek al geïnstalleer het, het binne enkele weke sy geld terug verdien. Dit gebeur deur die vermindering van misdaad, die bekamping van misdaad deur vroeë teen optrede en dan ook die sielkundige grens wat geskep word omdat die booswig weet sy kans op sukses is nou heelwat kleiner.

Ek kan dus nie verstaan hoekom mense steeds nie wil belê in voorsorg eerder as nasorg nie.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 4 April 2024

Môre

Inligting, die persoon wat inligting het, is ver voor die wat dit nie het nie. Die regte inligting op die regte tyd is letterlik 'n lewe werd.

Maar waar kry ek inligting, hoe weet ek wat is waar of vals en wat is bruikbaar en wat nie? Dit kom met ervaring. Hoe meer mens met dit werk en omgaan hoe meer ontwikkel jy 'n gevoel vir wat reg, waar en bruikbaar is.

Ek gebruik die voorbeeld van so week of wat gelede. Daar was 'n aanval in ons omgewing. Dit het vroegoggend plaasgevind en hier teen 19:00 die aand begin die storie sirkuleer dat die persoon dit nie gemaak het nie. Ek het vroeër die middag 'n boodskap gekry dat die betrokke slagoffer se toestand kritiek maar stabiel is.

Ek begin dadelik rond bel want die doodstyding klink net nie vir my reg nie. Na verskeie oproepe en probeerslae kry ek iemand in die hande wat met die familie kontak het, hulle bevestig dat die man definitief nie oorlede is nie.

Daar is baie vals nuus wat sirkuleer, en baie mense stuur dit goedsmoeds aan sonder om veel te dink of navraag te doen. Dan is daar ook diegene wat blatant ander se name gebruik om meer gewig aan hul stories te gee.

Hoe toets ek inligting vir die egtheid daarvan? My heel eerste stasie is Google, veral as die storie so goed is dat dit amper te goed is.

Dan gaan Google ek maar, as dit plaaslik is, bel ek rond. SAP is nie onwillig om bv insidente soos plaasaanvalle te bevestig nie. Jy gaan nou wel nie al die detail kry nie maar 'n bevestiging is maklik bekombaar.

Mens kan ook inskakel by netwerke soos die GPF, Solidariteit en Afriforum om goeie bevestigde inligting te kry.

In jou eie buurtwag groep is inligting ewe belangrik en van belang. Maak moeite om boodskappe te lees, veral berigte van misdaad in jou area. Moet nie skaam wees om sulke inligting te deel nie. Dit help weer ander om op hoogte van gebeure te bly.

As inligting oor bv inbrake ens betyds en akkuraat gedeel word kan dit selfs help om die booswigte aan die pen te laat ry.

Inligting is jou vriend, versamel dit en gebruik dit.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 5 April 2024

Môre

Ons gesels steeds oor inligting. Hier by ons probeer ons mense aanmoedig om inligting rakende inbrake, saakbeskadiging, betreding en ander misdade op ons buurtwag groepe te deel. Dit maak dit makliker vir diegene wat misdaad analise doen. Met genoeg inligting kan mens tendense bepaal, toegang en ontsnap roetes en ook misdaad warm kolle identifiseer.

Dit is ook belangrik dat sekere inligting so gou moontlik gedeel word terwyl ander inligting nie noodsaaklik is om dadelik te deel nie. Voorbeeld, voertuig diefstalle moet onmiddelik gedeel word met soveel moontlik inligting terwyl drade wat geknip word bietjie kan wag. Plaasaanvalle word onmiddelik geplaas, sodra dit aan die lig kom. Ons het in ons area reeds goeie suksesse met hierdie metode gehad.

Dan is dit ook nodig om inligting oor tendense te deel. Ons sien daagliks in die nuus verskillende berigte oor misdaad. Die probleem is dat nie almal die nuus kan of wil volg nie maar wel op 'n buurtwag groep is. Daarom kan mens gereeld 'n samevatting van verskillende taktieke en modus operandi op jou buurtwag groep plaas vir die kennisname van ander.

Inligting speel 'n alhoemeer groter rol in ons daaglikse stryd teen misdaad. Dit word so belangrik dat elke buurtwag 'n inligting persoon behoort te hê, iemand wat spesialiseer in die insamel en deel van inligting. Hierdie persone sal ook noodwendig met ander buurtwag en misdaadbekamping groepe skakel om voortdurend op hoogte te kan wees van dit wat op die misdaad front gebeur.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Maandag 8 April 2024

More

Ek het verlede week so bietjie gekrap aan inligting en hoe mens inligting inspan om jou area veiliger te maak. Vandag wil ek raak aan organisasie en hoe mens, deur meer georganiseerd te wees, jou wêreld kan beveilig.

Wanneer mens georganiseerd te werk gaan, veral in jou gemeenskap waar mense saamwerk, kan jy heelwat dinge regkry. Ek gaan so een of twee voorbeelde gebruik.

Nie almal kan bekostig om 'n tweerigting radio aan te koop nie, dit kos normaalweg in die omgewing van R 2000,00 of meer as jy dit op die regte en wettige roete doen. Meer mense kan bekostig om 'n geraas maker soos 'n sirene of motorkar toeter aan te koop. As jy nou een van hierdie goed koppel en buite jou huis aanbring sodat jy dit, wanneer daar nood is, kan aanskakel kan jy daardeur alarm by jou naaste bure maak dat jy hulp nodig het.

As jy nou bietjie verder gaan en hierdie geraas maker op jou huis se dak aanbring saam met 'n gekleurde lig wat jy terselfdertyd kan aanskakel kan jy 'n audiovisuele aanduiding gee van 'n probleem.

So as 'n groep ouens in jou gemeenskap saamspan en hierdie metode aanbring om alarm te maak en dan nou nog saamwerk om die misdaad te bekamp, kan jy baie verder voor wees as die ouens wat niks doen en nié saamwerk nie.

Tweede voorbeeld: Kom ons gestel daar is 'n groepie huise in een straat of op 'n paar hoewes wat saamwerk op een Whatsapp groep. Een van hierdie ouens merk 'n onbekende in die area op. Hy of sy laat weet nou op daardie groep dat 'n persoon in die area beweeg en die plekke moontlik dophou. Soveel moontlik mense kom nou uit hul huise en kyk vir hierdie ou. Wanneer hy by jou plek verbyloop kyk jy, jy hoef nie kontak te maak of in enige konfrontasie betrokke te raak nie. Dink jy daardie ou gaan na drie of meer mense hom bekyk het, waag om terug te keer na die area om te kom droogmaak? Sou jy as jy in sy skoene was? Ek sou verseker nie.

Deur saam te werk, al is dit net twee of drie huisgesinne, maak jy klaar 'n verskil, maar die ding groei. Ander inwoners wat dit sien sluit aan, doen dieselfde, die sisteem word sterker. So groei so groepie en word dinge beter vir almal.

Wanneer die gemeenskap georganiseerd raak, word dinge vir almal binne daardie gemeenskap beter. Misdaad verskuif en die volgende gemeenskap moet aktief raak.

Ons moet ook leer om minder dwarstrekerig te wees, as ek en my buurman verskille het moet ons weet wanneer om daardie verskille te bêre en mekaar te help. Jy kan jou alledaagse huishoudelike verskille hê maar wanneer daardie man of sy gesin aangeval word, reageer jy as daardie sirene aangaan.

Ons moet saamwerk en ons moet mekaar ondersteun.

Groete

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 9 April 2024

Goeiemôre

Ons is dankbaar vir die heerlike en wyd verspreide reën wat oor ons land uitsak. Ek merk dat tot die Karoo heelwat reën ontvang het.

Ek wil vanmôre weer bietjie verder gesels oor fokus. Ons is so geneig om ons self te laat beïnvloed deur die uitsprake en optrede van sogenaamde leiers. Hier verwys ek nou na outjies wat hier kort voor die verkiesing op hul seepkissie klim en allerhande beloftes en dreigemente maak. Ook is daar diegene wat uitsprake teen ons Skepper maak, uitdagende en uittartende goed se om ons uit te lok. Uiteindelik is dit seker nodig om kennis te neem van hierdie ouens se doen en late maar ons moet waak daarteen om so betrokke te raak dat ons naderhand fokus op ons eie take verloor.

Ons is gewikkel in 'n konstante sielkundige stryd. As ons terugdink aan Paul Harvey se storie van "If I were the devil" waar hy die duiwel se strategie om alledaagse dinge te gebruik om ons sodoende weg te rokkel van ons geloof en Godsdiens verduidelik, dan kom ons agter dat dit vandag steeds die strategie is. In plaas van om in ons gemeenskappe, ook die gemeenskap van gelowiges, betrokke te wees, staan so baie van ons en vergaap ons aan die aapstreke van die mensdom.

Moenie fokus verloor nie, neem.kennis maar konsentreer daardie klein bietjie harder op jou eie voorbereiding. Berei jouself geestelik en fisies voor vir dit wat duidelik op ons pad vorentoe lê. Ons almal ken die geskiedenis van soveel lande wat presies die pad gestap het wat ons nou stap, en tog laat ons onsself so maklik mislei deur mooi woorde, praatjies en ook skokkende uitsprake.

Fokus op jou Skepper, fokus op dit wat Hy deur Sy Woord aan ons bekendmaak. Wees een van die vyf wyse meisies en nie een van die hordes wat nie voorbereid is nie.

Staan sterk in geloof, bou die gemeenskappe om jou en werk vorentoe.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 10 April 2024

More

Dit is die klein jakkalsies wat die boord verniel, die klein oënskynlik onbelangrike goedjies wat uiteindelik die grootste skade veroorsaak, nie waar nie?

Hoeveel keer is daar al ingebreek en groot items verwyder waarna die eienaar gewonder het hoe die ouens dan ingekom het. Die honde het dan nie eens wakker geword nie. Dan se so baie mense oh, dit was 'n inside job. Jip, iemand van binne het heel moontlik gehelp. Dalk het jy self nog gehelp, onwetend natuurlik.

Ek was al by twee tonele waar mense aangehou en beroof is. Beide gevalle was daar 'n deur in daardie huise wat nie behoorlik kon sluit nie, en raai waar die booswigte ingekom het? In beide gevalle was die mense vir etlike jare bewus van die deur wat nie rêrig kon sluit nie en in beide gevalle het hulle die herstel daarvan vir jare uitgestel.

Ek was ook al op 'n toneel waar die aanvallers saam met die bediendes die huis ingekom het, en waar die bediendes na die tyd voorgegee het hul was nie aanvanklik bewus van die aanvallers se teenwoordigheid nie. Die videomateriaal het anders bewys.

Heinings wat nie behoorlik werk nie, hekke wat nie gesluit word nie of waarvan die sleutels in die hande van bediendes en tuinwerkers is, selfs bosse sleutels wat vir 'n tydperk verdwyn en dan weer opduik, dit is alles swak skakels in jou veilgheidsmondering. Wat dink jy het in die tyd gebeur wat daardie sleutels soek was? Daar is natuurlik duplikate gemaak.

Daardie een infra rooi straal of detektor wat nou al vir maande elke aand ge-bypass word, dink jy nie iemand aan die buitekant het al agtergekom dat daardie ogie of straal nie werk nie? Jou tuinman loop elke dag en kyk na sulke goed.

Hoeveel keer het jou alarm al onverklaarbaar afgegaan, en hoekom dink jy dit gaan so onverklaarbaar af? Iemand is heel moontlik besig om te toets om te sien hoe die stelsel werk.

Glo my ook maar as ek vir jou sê jou honde is ook nie bo verdenking nie. Hulle kan redelik maklik mak gemaak word en selfs uit die omgewing verwyder word tydens 'n aanval. Ons het 2 jaar gelede so geval gehad waar die wildste en aggresiewe honde weggelok is die veld in en die huiseienaar daarna koelbloedig doodgemaak is.

Jou vroeë waarskuwing stelsels moet te alle tye effektief werk en jy moet sovêr moontlik te alle tye 100 persent in beheer wees van jou omgewing en veiligheid situasie.

Herstel of laat herstel so gou moontlik swak skakels soos stukkende slotte, detektors, heinings, kameras ens. Jou en jou gesin se veiligheid het dit nodig.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 11 April 2024

More

Wanneer mens sukses verhale ontleed, is dit duidelik dat elkeen 'n stelsel het wat dit suksesvol maak. Henry Ford se stelsel was bv om voertuie op 'n monteer baan aanmekaar te sit, die tannie by die tuisnywerheid se sukses lê in die resep of metode wat sy gebruik om koek te bak en so kan mens aangaan.

In veiligheid is daar ook sulke metodes of stelsels wat ons gebruik om misdaad te bekamp en ons omgewing veiliger te maak. Daar is sigbare polisiëring, parate optrede deur gemeenskappe deur bv heinings gereeld na te gaan en te herstel, gereelde en effektiewe kommunikasie en nog 'n spul ander goed wat ons gebruik om ons gemeenskappe te beveilig.

Maar as ons nou terugdink aan oom Henry se monteer baan konsep, dink jy nou as 'n leek daar sou instap en sommer op dag een sou probeer om 'n enjin aanmekaar te sit, dit sou suksesvol wees? Ek reken dit sou 'n fiasko afgee. Daardie persoon sou eers opleiding moes kry, hetsy formeel of in diens waar kollegas hom sou leer wat om te doen, deur voorbeeld te lei ensomeer.

Net so kan 'n mens nie sommer hier van die kant af inkom wanneer die nood druk en effektief by die veiligheidstruktuur inskakel nie. Nee, jy moet eers die stelsel leer ken, bietjie opleiding kry oor hoe dinge inmekaar steek en wie watter rol vervul binne die organisasie.

Eers wanneer daardie mens verstaan hoe alles werk, homself verbind tot die metodiek van die groep en self inval daarby, kan daardie nuwe lid ten volle funksioneer.

Elke ou wat aansluit moet ook besef dat hy 'n verantwoordelikheid het tot die groep maar ook homself te verbind tot die groter groep se ordes en werkwyses om onnodige beserings en ander probleme te vermy. Mens kan tog nie sommer net Willens en wetens 'n stelsel ontwrig omdat jy nie daarmee saamstem nie?

Dit is dus belangrik om in te skakel en op hoogte te wees van hoe dinge werk alvorens jy effektief binne jou gemeenskap se strukture kan funksioneer.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 12 April 2024

More

Het jy al agtergekom as jy 'n taak gereeld doen, soos bv jou handtekening maak, kan jy dit later te oë doen en niemand sal eers weet jy het nie gekyk nie? As jy iets so gereeld herhaal, word dit naderhand tweede natuur. Ons noem dit spier geheue. Jou liggaam leer om deur die aksies te gaan met minimale inset van die brein af.

Dit gebeur ook met jou gedagtes, as jy gereeld vir jouself se jy kan nie hierdie een spesifieke taak verrig nie, gaan jou gedagtes naderhand so gekondisioneer word dat jy dit nie kan doen nie. Dit werk andersom ook, as jy jouself deurlopend vertel jy kan, dan sal jy dit naderhand kan doen. Jy spreek dinge oor jouself uit.

Goed so as jy nou gaan sit en dink oor wat sal gebeur as jy iemand in jou huis betrap, wat gaan jy doen, hoe gaan jy optree? Nou begin jy hierdie scenario in jou kop afspeel, oor en oor. Jy kan dit selfs uitspeel, soos toneelspel. Jou aksies verfyn, krities kyk na jou aksies en wat gaan werk en wat nie. Hoe meer jy hierdie aksies oefen, oor en oor, hoe meer kweek jy 'n spier en abstrakte geheue. Sou jy eendag wel iemand in jou huis betrap, gaan jou selfverdediging basies outomaties na vore kom.

As jy in beheer van die situasie is, verras jy die betreder en verhang jy die bordjies, jou kans op sukses is dan baie beter as wanneer hy jou op die agtervoet het en die verrassingselement in sy guns is.

Om 'n scenario so in te oefen, so uit te speel, eers in jou kop en dan later in aksies, is die goedkoopste manier om jouself gereed te maak vir die moontlikheid van 'n aanval.

Plaas nou hierdie oefeninge oor op jou huismense, man, vrou, kinders. Leer almal om saam te werk, saam die moontlikheid van 'n aanval te bedink en voor te berei daarvoor. Wat dink jy gaan gebeur as iemand homself begeef in jou veilige sone en jy en jou gesin tree met selfversekerde doelgerigtheid op? Hy/ hulle gaan of vlug of julle gaan die ouens oorrompel en die situasie beheer, mits jy dit natuurlik so ingeoefen het.

Sodra die kans op mislukking groter word as die kans op sukses, gaan die betreder sy opsies heroorweeg en heel moontlik pad vat. As jy nou nog bo op hierdie inoefening die tyd faktor aan jou kant kry deur vroeë waarskuwing in plek te bring sodat jy die outjie by die deur of venster kan inwag, dan raak sy kans op sukses al kleiner. Hy gaan dus moet vlug of veg, as jou voorbereiding goed is, is die kanse baie goed dat hy gaan vlug.

Kring dit nou uit na buite jou huis, skep hierdie oefeninge sodat jy dieselfde tipe weerstand kan bied in bv jou motorhuis of tuin, kry jou buurman om in te koop. Laat hulle saam oefen, saamwerk om bv in 'n span met jou gesin saam te werk in geval van 'n aanval, en daar is die gemeenskap element. Nou werk julle saam, en sodra hy sy buurman intrek met dieselfde en daardie buurman en en en . . .

Ek dink jy sien die prentjie? Maar dit kom neer op aksie. Iemand moet aksie neem, iemand moet begin. Lao Tzu het destyds gesê 'n reis van 'n duisend myl begin met die eerste tree. Jy moet begin, anders kan jy nie vorentoe beweeg nie.

Begin die naweek nog, neem vandag nog aksie, voor dit te laat is

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Maandag 15 April 2024

Môre

Ek sit die afgelope naweek by 'n familie byeenkoms, luister so na die kinders en ouer mense se gesprekke. Ek moet noem hierdie is in 'n semi landelike gebied.

Dogter, seker so 15/16, vra "ouma kan ons hier in die pad oorloop na die boonste hek toe?" Ouma se toe ja maar wees versigtig. Ons sal versigtig wees. Ouma sê nogal, wees versigtig vir die ander mense.

Nou ja ek begin wonder, drie vier tieners stap in die pad, al waarvoor hul regtig versigtig kan wees is hulself want mense is deesdae so onvoorspelbaar dat jou eie familie nie meer te vertrou is nie. So wat maak jy as 'n groep onbekendes op die jongetjies toesak, dogters met kort broekies en hempies en seuns met sterk hande van al die rekenaar speletjies wat hul speel as hulle nie na die dogtertjies kyk nie.

Het jou kind 'n strategie vir wanneer dinge skeefloop? Weet jy wat daardie strategie is, en is dit 'n goeie strategie? Ek weet ek klink baie skepties en negatief maar met wat mens tans in ons land sien, dink ek nie dit is te vergesog nie. Hoe ouer ek word, hoe meer probeer ek vooruit dink, voorsorg tref en probleme voorsien.

Ek het oor die laaste 10 jaar geleer dat mens moet regmaak vir die ergste maar steeds vir die beste moet hoop. Mens moet gereed wees vir wanneer dinge skeefloop sodat wanneer dit wél gebeur, jy ten minste 'n kans het om dinge te beveg. Dit geld in alle vlakke van ons lewe, veiligheid, finansies, gesinslewe en so meer. Jy moet ook leer om op die Hoër Hand te vertrou, laat Hy jou lei waar jy moet gaan en soek allereers Sy wil in alles wat jy aanpak.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 16 April 2024

Goeiemôre

Ek het so bietjie slae gekry oor my plasing van gister en ek dink ek het dalk nie my punt baie duidelik oorgebring nie. Ek het nie werklik 'n probleem met kinders wat avontuur soek nie, ek voel dit is normaal en mens moet dit nie probeer onderdruk nie. Wat ek wel probeer oorbring is dat ons in hierdie proses van ontdek en ondersoek ook ons kinders moet leer om vooruit te beplan deur moontlike probleme te identifiseer en oplossings vooraf te bespreek.

Ons se voorsorg is beter as nasorg en dit is baie waar maar min van ons pas dit in ons alledaagse lewe so toe. Ouma, en natuurlik ek ook, het 'n geleentheid gemis om die jonges 'n waardevolle les te leer en sodoende daardie jongmens moontlik vir die res van sy of haar lewe te beskerm in ten minste een opsig.

Ons leer uit ons foute maar dit is ook so dat die lewe te kort is om al die foute self te maak, daarom moet ons ook uit ander se foute leer. Sommige foute moet ons daadwerklik probeer vermy soos bv om in situasies te beland waar jou lewe op die spel is. Ons kan nie altyd hierdie situasies vermy nie maar ons kan vooruit beplan vir wanneer ons wel in 'n netelige posisie beland sodat ons beter kan reageer.

Ons word grootgemaak met die siening dat lewe kosbaar is en dat ons dit moet beskerm, tog is ons geneig om in sekere omstandighede ons versigtigheid oorboord te gooi.

Ek vra net mooi, kom ons leer ons jonges om vooruit te beplan, 'n tipe risiko analise te doen en dan op grond daarvan te besluit of dit wat ons wil aanpak die moeite werd is aldan nie. Te veel van ons jonges beland deesdae in die kloue van gewetenlose mense wat net selfverryking op die brein het. Ons kinders is baie meer werd as dit.

Dankie vir elkeen wat my gekontak het en my aangespreek het. Ek waardeer elke stukkie kritiek opreg.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 17 April 2024

More

Meeste van ons mense het nou al kennis geneem van die "spiking" insidente op die N4 en omliggende roetes in die omgewing van Pretoria, Brits en Rustenburg

Vir die wat nou nog nie weet nie, die kriminele gebruik yster penne wat hulle in die pad gooi om skade aan motors aan te rig. Sodra die motor dan stop om die skade te ondersoek/ pap wiel om te ruil, word die mense aangeval en beroof. Verskeie ouens is al dood in hierdie tipe aanvalle en ander is baie ernstig beseer.

Hierdie insidente vind meestal snags plaas wanneer sig beperk is en bestuurders nie ver voor hul kan sien nie.

Intussen is die owerhede vermis in die aksie en word Jan Alleman aan sy eie genade oorgelaat. Dit gaan nie lank neem nie dan sal hierdie taktiek ook uitbrei na ander areas en voor mens weet sal ons paaie snags onbegaanbaar wees.

Intussen geld die reel weereens, beplan vooruit, vermy die areas snags. Stel liewer jou rit uit of verander jou roete maar bly weg uit die areas waar hierdie laakbare dade gepleeg word. Jou lewe is definitief meer werd as daardie rit. Ek weet nou ook van mense wat wraggies waar so dapper is om na 21:00 saans juis hierdie roetes gaan ry om "bietjie pret" te gaan soek. Dit is seker maar elke ou se keuse maar ek sal nie die paaie daardie tyd van die nag alleen aandurf nie.

Beplan, doen jou risiko analise en besluit of die beloning wel die risiko werd is.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 18 April 2024

More

In die area waar ek woon, is daar heelwat huurhuise. Die gevolg hiervan is dat baie mense in en uit die area trek op 'n maandelikse basis. Baie mense bly ook nie lank in die area nie en dus kry meeste mense nie werklik kans om die sleutelrol spelers in die area te leer ken nie.

Wat ook gereeld gebeur is dat meeste mense wat hierheen verhuis binne die eerste maand of drie beroof word. Almal is goedgelowig en glo die verhuurder wanneer hy of sy se dat dit eintlik 'n rustige area is en dat hul nog nooit enige probleme in die area ervaar het nie. Die teendeel is natuurlik waar.

Goed so nou trek hier 'n nuwe gesin in, hul word beroof en nou wat nou. Die polisie moet gekontak word. Eerstens word die area deur meer as een polisiestasie bedien. Die polisie is ook baie gesteld daarop dat die regte stasie vir die regte area gekontak word. Verder weet mense ook nie wie is die veiligheids maatskappye, ambulansdienste, reaksie en buurtwaglede nie.

Ons probeer 'n stelsel implimenteer waar huiseienaars/ verhuurders die belangrikste inligting van die area op 'n A4 papier agter die voordeur aanbring. Hier sal die adres, bekende bakens, SAPD, ambulans, naaste hospitaal en ander sleutel inligting geplaas word. Ons probeer ook standaardiseer deur dié kennisgewing agter op die voordeur aan te bring sodat almal as standaard eerste daar gaan kyk om die nodige inligting te kry. Ons moedig ook mense aan om hierdie inligting gereeld by te werk met die jongste kontak nommers ens

Ons gee ook spasie waar naaste bure se telefoon nommers aangebring kan word vir gebruik in geval van nood. Soos ek sê ons spook nog om hierdie hele konsep oral te implimenteer maar sovêr begin dit reeds vrugte afwerp in ons gemeenskap.

Soos reeds soveel keer vantevore genoem, kommunikasie is die sleutel. Met hierdie projek poog ons om nuwe intrekkers by te staan en ook om kommunikasie met die korrekte/ relevante persone te vergemaklik. Uiteindelik is dit die verantwoordelikheid van die eienaars en verhuurders om hierdie inligting aan te bring en op datum te hou.

Elke bietjie help, en elke stappie in die regte rigting maak ons area klein bietjie veiliger en meer aangenaam om in te woon.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q