Landelike veiligheid
273 subscribers
167 photos
94 videos
15 files
799 links
Hierdie groep vra geen intekenfooi nie. Hier praat ons oor veiligheid, nie oor politiek of ander ouens se planne teen ons nie maar spesifiek oor self beveiliging. Ons sal praat oor geloof, Geloftedag, Christenskap en gebed
Download Telegram
Maandag 26 Februarie 2024

Môre

Deesdae is sosiale media so deel van ons lewe dat mens soms vergeet dit is ook maar 'n feilbare stelsel wat afhanklik is van 'n groot klomp infrastruktuur om te kan werk. Vandat jy jou Whatsapp of Facebook boodskap hier stuur tot dit binne sekondes op die volgende ou se foon of rekenaar verskyn, reis daardie boodskap deur verskeie data sentrums, kabels en bedieners. Trouens jou boodskappe reis meer as om die wêreld net om by die volgende ou uit te kom. Die deursnee mens sien dit nie so nie en is meestal nie bewus daarvan dat so boodskap deur soveel stappe gaan voor dit by die volgende ou kom nie, tot daardie dag wat 'n ondersese kabel beskadig word of 'n optiese vesel uit die grond geruk word deur 'n onoplettende kontrakteur.

Maar so breekbaar as wat hierdie sosiale media is, net so bruikbaar is dit ook. Deesdae kan jy meer as 1000 mense op 'n Whatsapp groep laai. Jy kan dus met een boodskap op een groep 'n klein gemeenskap van inligting voorsien. Dit bring egter ook uitdagings.

Baie mense lag en dink ek is ongelooflik sarkasties as ek mense op groepe berispe oor boodskappe buite daardie groep se onderwerp maar besef nie altyd hoe nodig dit is vir so groep om effektief te funksioneer nie.

As mens op 'n buurtwag groep 1000 lede het en net een persent, met ander woorde 10 ouens lewer ongevraagde irrelevante kommentaar, het die groep klaar in 'n sirkus verander. Slegs 5 ouens op so groep wat 'n irrelevante gesprek onder mekaar op die groep voer, veroorsaak vinnig dat mense die groep verlaat if doodeenvoudig die groep stilmaak (mute).

As jy nou hier in die middernagtelike ure 'n ernstige probleem ontwikkel en vra vir hulp via daardie groep, is die kanse goed dat jy nie behoorlike reaksie gaan kry nie omdat die nodige mense of nie meer die groep hoor nie of heeltemal weg is van die groep.

Die ouens wat gesit en kekkel het, slaap rustig, salig onbewus van die gevolge van hul ondeurdagte dade.

Hierdie is maar een rede hoekom mens alternatiewe kommunikasie in hand moet hê.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 27 Februarie 2024

Môre

Mense is soms lekker lui en wil nie bietjie moeite insit om hul eie asook ander se veiligheid te verseker nie.

Mense is bereid om aan te sluit by 'n radiogroep, tot hy hoor wat die koste van 'n basis radio is. Dan soek hy klaar goedkoper opsie. Goed ek kan vir jou 'n handradio met buite antenna verskaf teen R x minder. So gesê, so gemaak. Maar nou kom die probleem, meneer wil saans tydens radiotoets in sy sitkamer sit en van sy bank af in rapporteer. Nou, omdat hy nie aan die buite antenna gekoppel is nie, kom sy sein nie deur nie so nou moet ons 'n ander plan maak. Kan ons nie 'n repeater opsit nie?

Dit word letterlik te veel moeite om saans vir 5 minute kamer toe te stap om radio te toets. Onthou nou, daardie radio toets is nie vir die persoon in beheer se plesier nie, dit is vir die gebruiker om seker te maak sy radio werk reg en hy het goeie kommunikasie. Ek weet van radiogroepe waar bure met radio's mekaar nie eens ken nie, ten spyte van die feit dat daar by elke maand vergadering 'n lys met roepseine, telefoon nommers en adresse gesirkuleer word!

Elke ou wil die groep vir hom laat werk, hy wil nie 18h30 al rapporteer nie maar liewer 20h00 en nee ook nie twee maal per dag nie maar slegs eenmaal per dag. Asseblief ook nie naweke nie want dan braai en kuier ons te lekker.

Baie dieselfde ding gebeur op die buurtwag groepe. Iemand wat vir 5 jaar op die groep is en nooit 'n woord rep nie stuur een aand 'n boodskap "Kan julle asseblief iemand uitstuur, ons honde blaf verskriklik" geen posisie, geen adres, geen naam of selfs kontak nommer nie. Niemand het 'n idee wie of at nie maar môre oggend wanneer die son skyn sal dieselfde persoon laat weet, "ek verlaat maar die groepie want dit is tog nutteloos as niemand my kom help wanneer ek daarvoor vra nie". Dit nou van dieselfde persoon wat oor 5 jaar nie een buurtwag vergadering bygewoon het nie, nie een keer verskoning gemaak het of selfs net dankie gesê het nie.

Ek praat met baie mense in baie gemeenskappe en in baie buurtwag stelsels en vir almal is dit dieselfde. Die ou met die minste belangstelling, die minste insette en wat die mees onbetrokke is, is ook die grootste kritikus.

My persoonlike observasie is dat mense doodeenvoudig lui is en 'n gemaklike rede soek om uit die sisteem te kom.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 28 Februarie 2024

Goeiemôre

Almal wil voordeel trek uit die buurtwag strukture, dit is tog waarvoor dit daar is. Buurtwag bestuur verwag ook sekere goed van lede, soos bv om vergaderings by te woon, vir lede om self te observeer en ongeruimdhede te rapporteer aan die groep, om soms patrollie te ry en nog so klompie ander goed.

Vir die wat nou nog nie by 'n buurtwag vergadering was nie, as jy dit eendag bywoon sal jy sien jou buurtwag met 600 lede het eintlik niet so 10 of dalk 20 aktiewe lede, die res is te besig, oud, het nie vervoer nie, kan nie hul huis en gesinne saans alleen laat nie, het nie geld nie en nog so klompie ander verskonings. Andere se blatant hulle is nie tevrede met die paar ouens wat die ding aan die gang hou nie. Maar saamwerk om dinge te verander sal jy ook nie maklik sien nie.

Kom Saterdag middag vergadering is die verskonings legio, maar intussen kuier die ouens dat die brannewyn bottels hope aangery word op 'n Maandag oggend.

Dit gaan oor prioriteite, jy kan nie verwag dat dinge maklik moet wees nie, ons is nie betrokke by 'n buurtwag omdat dit 'n maklike uitweg is nie. Die interressante is hoe meer ouens betrokke raak hoe makliker word dit vir almal.

Ek was nou hierdie week my mond uit oor ouens wat nie inskakel of betrokke raak nie en ek preek weerens vir die wat reeds betrokke is en wat reeds deel is van die 10 of 20 outjies wat aktief werk.

Soos ek sê dit is prioriteite, jy kan kies om Saterdag middag op jou bank voor die TV met die Bokke game deur te bring, of om by die buurtwag vergadering te wees sodat jy kan weet wat om jou aangaan. Glo my die buurtwag ouens reel nie sommer 'n vergadering op dieselfde tyd as 'n belangrike wedstryd nie. Dit moet regtig baie belangrik wees voor hulle so iets sal doen.

So rukkie gelede het een ou hierdie blink plan om 'n skyn plaasaanval te gebruik om mense bymekaar te bring. Daar het heelwat mense opgedaag om te kom "help". Daar is ook bespreek dat daar opleiding gegee gaan word sodat daar 'n effektiewe stelsel gebou kan word om plaasaanvalle te hanteer. Die uiteinde? By die tweede opleiding sessie het dinge al platgeval en was die ouens klaar moeg.

Ons moet kies, wil ons ingelig wees, opgelei wees en saamwerk? Of wil ons liewer wag vir die aanval. Onthou net dit is lankal nie meer 'n kwessie van as ek aangeval word nie, dis nou 'n geval van wanneer ek aangeval word.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 29 Februarie 2024

Môre

Baie geluk aan al die skrikkeldag babas wat vandag verjaar.

Ek voel ek moet darem ook so paar suksesse met julle deel. So amper twee jaar gelede was daar 'n aanval op een van ons inwoners waartydens die man vermoor is. Binne 'n uur het dit rugbaar geword en is ons spanne geaktiveer.

Ongeveer 'n 45 minute later is daar 'n beskrywing deur die SAPD uitgereik en dit is op ons groepe gedeel. Letterlik binne 10 minute ná dit gedeel is, is die eerste man in hegtenis geneem, en minder as 15 minute daarna nog een. Goeie kommunikasie het die deurslag gegee.

Verlede jaar was daar 'n aanval so 60km van my af, die aanvallers het die mense erg aangerand en hul voertuig geneem. Weereens deur effektiewe kommunikasie kon ons binne 1 uur die ouens so 30km van die toneel vastrek en is die gesteelde voertuig met meeste van die items teruggevind. Selfs al is ons klein groepies mense wat saamwerk kry ons steeds die suksesse.

Dit is hartseer om te sien hoe afgestomp mense raak. Met elke plaasaanval is die reaksie daarop minder. Mense word nie meer geskok deur aanvalle nie en dit gaan by hulle verby. Ek merk op dat iets soos die kroning van mej skou, daglelie of lente deesdae meer aandag kry as 'n plaasmoord.

Ons moet mense weer sensiteer en leer om te reageer op hierdie tipe aanvalle. Solank as wat ons dit as alledaags beskou gaan dit net erger word. Die wat nog nie gehoor het van die padda op die stoof nie, gaan Google dit bietjie.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 1 Maart 2024

Môre

Ek wens ek kan vanmôre 'n lang boodskap skryf om dankie te sê vir elkeen wat betrokke is, elkeen wat op die onmenslike oproepe reageer, wat in die klein ure van die nag skurke jag, patrollie ry en ander se lewens probeer beskerm.

Ek wil dankie sê vir elke persoon wat sy of haar gesin alleen tuis los terwyl hulle gemeenskappe bedien, ook aan elke vrou en kind wat snags alleen sit terwyl 'n pappa op die pad is, besig om andere te beskerm.

Ek wil dankie sê vir almal wat vergaderings bywoon, strategieë bespreek en planne maak om hul gemeenskappe veilig te maak. Dankie vir elke uur wat julle spandeer, elke rand wat julle uit bel, elke gig data wat julle verbrand en elke liter brandstof wat julle uitry. Dankie vir elke stukkie van jou siel wat jy prysgee, ter wille van ons veiligheid, elke geestelike en emosionele letsel wat julle namens ons opdoen.

Dankie dat julle, julle is. Die ouens en vrouens wat omgee, wat saakmaak, die sout van die aarde.

DANKIE

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101
082 930 9905

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Maandag 4 Maart 2024

Môre

Jare gelede, hier in die laat 1970's word ons genooi om my broer se uitpaserings parade by te woon. Dit is so 300km van waar ons woon maar dit is 'n spesiale geleentheid. So ry ons die vorige dag reeds deur tot by familie wat so halfpad tussen ons en die basis woon. Op pad daarheen begin ons motor probleme gee. Daardie aand kom help 'n werktuigkundige ons.

Die oom is baie slim met karre maar die een sit hom toe ore aan. Sien die kar vrek elke keer as jy stop. Die wil nie luier (idle) nie en is oor die algemeen maar olik. Uiteindelik kontak ons my boet op die basis, pa reken ons moet omdraai. Nee sê boeta, kom ek weet presies wat is fout, kom maar. So gesê so gemaak.

Volgende oggend, na die parade, kyk hy toe sommer gou. 2 minute, dis al, toe idle daardie 2.5 Chev engine te pragtig. Wat was fout? Die idling jet was verstop. Die slim oom het nooit daaraan gedink om dit te kyk nie en het die fout op al die ingewikkelde plekke gesoek, punte, condenser, coil en alles maar 'n stukkie vuilgoed so groot soos 'n stof korreltjie het die probleem veroorsaak.

Dit gaan baie keer so met ons veiligheid ook. Ons gooi geld en tyd agter probleme aan terwyl mens dit eintlik met 'n eenvoudige oplossing kan benader. Ons is ook baiekeer geneig om al die duur goed te kyk, maar mis die stofdeeltjies. Ek wil die week probeer om eenvoudige oplossings te bespreek, goed wat Jan Alleman kan implimenteer en wat steeds 'n wenner is. Ja dit neem dalk bietjie meer moeite maar op die lang duur is dit goed wat ons almal kan bekostig en wat steeds baie tyd kan koop.

Eenvoudige goed wat selfs 'n ou tannie aanmekaar kan slaan en wat hou vir hou 'n betreder op sy plek sit. 'n Plank met 'n klomp 6 duim spykers 'n blik met klomp klippe, dalk 'n gat in die grond waar mens dit nie sou verwag nie. So baie goed wat op 'n eenvoudige vlak steeds effektief werk.

Ons gesels môre verder

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 5 Maart 2024

Môre

Ek het 'n oom geken wat op 'n stadium vreeslik las gehad het van ouens wat sy avo's kom steel. Hy het heinings opgesit, alarmpies en wie weet wat nog.

Hy vertel my hy sit een Sondag so in die kerk toe tref die gedagte, die ouens klim elke keer in dieselfde hoek oor sy heining. Hy het al allerhande planne gemaak maar daardie een hoek is sy probleem.

Sondag middag na sy gebruiklike slapie, stap hy motorhuis toe. Kry 'n stuk plank daar en so 20 6 duim spykers. Hy slaan die deur die plank en wag toe tot na sononder. Hy gaan sit daardie plank presies daar waar die ouens elke keer land wanneer hul oor die heining kom. Gooi so klompie blare oor en gaan huis toe.

Volgende oggend, douvoordag, is hy terug. Die plank is vol bloed, die heining paal ook. Hy vat die plank terug motorhuis toe. Bere dit netjies bo in die dakbalke. Teen 07h00 daag sy werker op, loop hinkepink, het glo oor die naweek sy voet seergemaak waar hy glo gekuier het.

Vreemde ding is, tot met sy dood so 5 jaar later, het daar nie weer een avokadopeer verdwyn uit sy boord uit nie. Sy gereedskap het ook skielik stil in die motorhuis gelê, en beste van alles, die werker het so 3 maande na daardie insident besluit om te bedank. Die oom se kleinseun het toe daar gaan woon en uiteindelik die lappie grond geërf.

Alles deur een stuk plank en klompie spykers. Dit nou nadat hy honderde rande gespandeer het op ander meer ingewikkelde planne. Die eenvoudige oplossing was om vinnige en effektiewe wetstoepassing te doen. Die hof sal seker nie saamstem nie maar hoe sê die ou spreekwoord? " Wat die oog nie sien nie maak die hart nie seer nie?" Maak wel jou voete seer as jy loop waar jy nie hoort nie.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 6 Maart

Môre

My een vriend het ook so probleem gehad met mense wat ingekom het, maar die klomp het gereeld sy lyndraad kom knip. Ook baie tyd gespandeer om die draad te versterk met lemmetjies draad en later stukke staal, wat toe uiteindelik een nag saam met sy motor se wiele gesteel is. Daardie Saterdag oggend het hy genoeg gehad. Hy ry hardeware winkel toe en koop so stuk swart enkel elektriese draad, daai rooi en swart draad wat in jou huis dak is vir die ligte.

Tuis kry hy 'n kar hooter, hooter relay in die negosielaai en 'n battery met 'n laaier. Alles goed wat hy maar so met die jare opgegaar het. Hy is 'n praktiese ou en na so uur of twee se gespook maak hy sy plan werk daar op die agterstoep. Hy vat die stuk swart draad, ryg dit deur daardie heining en koppel dit aan sy kontrepsie. Solank die draad heel bly, bly die hooter stil maar sodra jy daardie draad knip gaan daardie hooter mal.

Die storie koppel hy toe sommer daar naby aan sy boorgat pomp se krag toevoer, begrawe die draad en gaan bed toe. Daardie nag gebeur niks, die volgende week ook nie maar die volgende Vrydagaand, so net voor 12 gaan daardie hooter aan die skree. Die buurt se honde val saam in. Hy is uit sy bed en, soos hy vertel, so halfpad deur die tuin word hy mooi wakker. Hy maak die spul stil en ondersoek die draad. Die derde draad wat die ouens geknip het was daardie swart draad. Hy se van daardie heining af die veld in, is daar geen voetspore nie maar baie spin merke.

Daardie swart draad is later verleng om reg om sy plek te gaan in een lang lus. Die hooter het later ligte by gekry. Die draad is nog so twee keer daarna geknip, en toe nooit weer nie. Totale koste vir die grappie was destyds onder R100.00 en werk vandag nog.

In die laaste 5 jaar is al sy bure se drade etlike keer geknip, syne is nog nooit weer gesny nie. Een buurman het sy plan kom afkyk en met dieselfde sukses dit maak werk.

As jy besig is met iets onwettig, en daar is skielik iets wat buitengewoon na jou kant toe kom, gaan jy waaragtig nie rondhang om ondersoek in te stel nie. Jy gaan sorg dat jy spore maak, of spin merke, en nie gou weer kom probeer nie.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 7 Maart 2024

Môre

Die ou mense het mos gesê "Nood leer bid"

So leer ken ek 'n tante wat alleen bly en nogal las het van ouens wat haar tuinslange en ander tuingereedskap kom steel. Vir 'n pensionaris is dit skade, en vir haar wat op 'n staatspensioen oorleef des te meer.

So begin sy planne maak, sy tel koeldrankblikkies op wanneer sy gaan stap, ook wanneer sy so stap kyk sy vir goed wat sy kan gebruik. So tel sy een middag 'n stuk vislyn op. Haar plan begin vorm aanneem. Sy woon in 'n ou huis, een van daardie met die stoep so voor en om die kant. Haar tuingereedskap slaap op die stoep, naby die voordeur, daar waar sy kan probeer ogie hou.

Sy maak die vislyn aan haar tuinvurk se handvatsel vas. Ryg dit deur die dakbalke tot so 5 tree verder en maak dit daar aan 'n blik vas. Die blikkie maak sy vol klippe en maak dit bo op een van daardie balke staan.

Nie lank daarna nie, word sy een nag wakker van 'n slag. Sy het teen daardie tyd so half vergeet van haar plan maar die blikke en vislyn was geduldig. Ta het die vurk kom haal, maar nie ver gevorder nie. Daai blik het so geraas opgeskop dat hy die aftog geblaas het en uiteindelik met net 'n kaktus op die vlug geslaan het. Die kaktus het sy later op die sypaadjie opgetel, nog net so in sy sement potjie.

Later het sy die ander gereedskap ook so vasgemaak. Alles het rustig geraak tot een dag wat sy so slim karakter gekry het wat toe van die toutjies begin losmaak het. Dit was 'n effense terugslag maar 'n boer maak 'n plan, en 'n boervrou het 'n plan.

Klomp vislyn en vis hoeke later, het die polisie die man een môre op die stoep kom los sny en verwyder. Tot met haar dood so 2 jaar gelede het sy nie weer probleme met betreders gehad nie.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 8 Maart 2024

Môre

Toe ek nog baie klein was, seker so 7 of 8 jaar oud, het ek eenkeer 'n vanghok gesien wat met behulp van 'n muis valletjie 'n deur kon laat toeslaan. Die mense het dit destyds gebruik om allerhande roofdiere te vang wat 'n probleem op hul plaas geword het. Later het ons die deur 'n meganisme aangesit wat dit gesluit het sodra dit toegegaan het omdat van die slimmer diere soos bobbejane die deur doodeenvoudig oopgestoot het.

Ek onthou goed hoe die oom ons eendag vertel het hoe hy heelwat later die hok met sukses aangewend het om 'n booswig vas te trek. Die knaap het glo batterye en brandstof uit die oom se stoor gesteel.

Ek kan nie presies onthou hoe die hok gewerk het nie maar wat ek wel onthou is dat die muis valletjie 'n split spy uitgetrek het wat dan die deur laat toegaan het. Die deur het soos 'n gewone deur gewerk en was nie 'n valdeur nie.

Met bietjie eksperimente glo ek kan mens iets soortgelyks prakseer met selfs 'n gewone veiligheidsdeur. Verbeel jou iemand wat rondloop se verbasing as hy so gevang word en vir jou moet wag.

Hopelik het ek hierdie week 'n paar idees wakker gemaak en paar manne se plan spiere weer geprikkel. Dit hoef regtig nie duisende rande te kos nie en mens kan effektief planne maak met alledaagse huishoudelike items

Volgende week gesels ons verder

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Maandag 11 Maart 2024

Môre

Ek het onverwags baie reaksie gekry op verlede week se plasings en meer as een persoon het gevra dat ons nog sulke inligting moet plaas.

Ek is maar half skrikerig want ek weet party ouens se verbeelding gaan op hol en voor jy weet sit ek in die moeilikheid omdat ek iets aan die gang gesit het.

Ek voel ek wil tog 'n staaltjie deel wat baie baie lank gelede gebeur het met my, nou oorlede, pa. My pa was besonder handig en het baie staalwerk gedoen. As ketelmaker en passer en draaier het hy heelwat deure, diefwering en ander veiligheids items vervaardig.

So kry hy destyds 'n versoek van 'n dame wat veiligheidsdeure aan haar huis wil hê. Die huis bestaan steeds en is geleë in een van die klowe van die Magaliesberg naby Mooinooi.

Hulle kom ooreen op die deure en so maak en installer hy dit. Skaars 'n week later laat weet die dame hy moet maar die deure kom haal want dit werk nie vir haar nie. Die betrokke huis se voor en agterdeur sit oormekaar aan teenoorgestelde kante van die huis. As jy by die een staan kan jy reg deur die huis anderkant uit sien.

In hierdie area word dit betreklik warm en dus slaap sy snags met die twee deure oop. Dit is dan ook die rede vir die veiligheidsdeure. Wel een ding waarmee die dame nie rekening gehou het nie is 'n luiperd wyfie en blykbaar haar kleintjies wat snags deur die huis geloop het om by 'n watergat uit te kom.

Toe die deure opgesit is en dit toegemaak word snags, gaan sit die spulletjie voor die deur en skop 'n lawaai op om deur die huis te kan loop. Nou ja dit is seker ook maar veiligheid?

Die deure is afgehaal en verwyder. Jare later het ek met iemand gesels wat vir 'n rukkie by die ou dame gaan woon het. Die vertel my toe dat die luiperds steeds snags deur die huis loop.

Raar maar waar

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 12 Maart 2024

Môre

Ons weet nou al dat inligting baie belangrik is en dat sosiale media ons help om inligting vinnig na groot groepe mense te versprei. Maar so veel as wat sosiale media help, so groot euwel kan dit ook wees.

Mens kry mos hierdie boodskappies wat gereeld die rondte doen. Die kind van Pretoria wat weggeloop het, of die ou wat jou waarsku oor die nuwe booster inspuitings, die een met die foto van tekens wat kriminele gebruik en seker nog 20 ander wat gereeld sirkuleer.

Daar is 'n aanvaarde norm in veiligheids kringe dat 'n boodskap sekere inligting moet bevat om enigsins te kan water dra. Eerstens, Wie stuur dit, is daar 'n datum en tyd, waar vind dit plaas, is daar kontak besonderhede? So boodskap sal dus as volg wees.

"Dit is Piet Pompies, vandag is 12 Maart 2024, die tyd is nou 04h50. Mense wees asseblief versigtig vir die blonde meisie met die rooi fiets op die hoeke van Meel en Sonneblom str in Putsonderwater, sy is 'n swaar gewapende bankrower."

Hierdie boodskappe wat ek kry waar die ou met so aangeplakte stemmetjie sê "Hey jy, ek wil net laat weet, ek kom nou uit 'n vergadering met Ou Mutual en die regering. Ons is meegedeel daar kom weer 'n streng lockdown . . . Genade mens die ding klink sommer vals.

Ons moet konsentreer daarop om alle boodskappe te toets voor ons dit aanstuur. Google is hier van groot hulp. Vat die eerste sinnetjie van so boodskap en tik dit in 'n Google soek in. Kanse is goed dat jy dadelik gaan sien of dit vals is.

Verder wees versigtig vir boodskappe met 'n SAP lid se kontak besonderhede. As jy nie anders kan nie probeer die lid kontak, maak doodseker.

As jy enigsins twyfel, vra hulp en baie belangrik, moenie aanstuur nie. Wees jy liewer die ou wat die keer gemis het voor jy die ou is wat halwe waarhede versprei.

Dan die ander ding wat mens baie versigtig voor moet wees is om foto's van verdagtes te plaas. Mens kan 'n saak liederlik verongeluk met een foto. Wanneer die storie in die hof kom kan daardie verdagte omdraai en se hy word geviktimiseer omdat mense hom reeds op sosiale media uitgewys het. Wees dus baie baie versigtig. Plaas geen foto's tensy dit vergesel word deur 'n saaknommer en amptelike polisie inligting nie.

Liewer bang Jan as dooie Jan

Sterkte vir vandag en wees asseblief waaksaam

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 13 Maart 2024

Môre

Mense het oor die algemeen lui geword, nie dom nie maar lui. Ons sal maklik terugsit en wag dat iemand anders iets doen voor ons self opstaan en dit vir ons self sal doen.

Dink maar hoe diensgroepe op sosiale media lyk, hoe mense op groepe hul verlore diere adverteer en nog soveel meer.

Ons raak so lui dat ons selfs die uitskieters sal maan om nie te veel te doen nie, hulle selfs slegsê en verkleineer vir dit wat hulle probeer. Ons sal selfs in dieselfde gesprek kla oor juis dit wat die ouens wil regmaak maar wil hulle nie toelaat om dit te doen nie.

Ons moet weer opstaan, self iets doen, self beheer neem oor goed soos ons veiligheid, infrastruktuur, opleiding en werkskepping vir ons eie mense.

Ouens soos Solidariteit, Afriforum en nog vele ander is reeds besig om die platform daarvoor daar te stel. Kyk maar na Sol-Tech, AfriForum se buurtwagte en pionier spanne wat parke, sypaadjies en slaggate takel.

Ons moet wegkom van ons fone af, weg van ons gemaksone en weg van ons luiheid af, slegs dan sal dinge verbeter.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 14 Maart 2024

Môre

Verlede Vrydag, die 8ste Maart, woon ek 'n vergadering by. My voertuig is op die sypaadjie geparkeer en deeglik gesluit. Alarm, ratslot elke ding. Na so uur en 'n half kom ek uit en vertrek na my volgende afspraak. Op pad daarheen stop ek by 'n groothandelaar en laai gou paar goed op. Dit is hier waar ek dan ook ontdek dat een of ander baie slim akker my bakkie se kappie, baie kreatief oopgemaak het en verskeie gereedskap stukke geeneem het sonder om my te verwittig. Ek is nou 20km weg van waar dit gebeur het en so is ek ongeveer R 7000,00 armer.

Nou ja, ek moes lankal die kappie se deur aan die alarm stelsel gekoppel het maar het net nog nooit die prioriteite so gemaak dat dit gedoen word nie. So pluk ek dus baie duur vrugte van my eie luiheid.

Hoekom vertel ek hierdie vir jou? Net om vir jou te sê ek is ook mens, ek stel ook uit en ja dit byt my ook van agter wanneer ek dit die minste verwag.

Saterdag oggend vroeg begin ek planne maak. Ek het darem nou iets in plek en ja, hopelik sal ek nie nou weer met so een gevang word nie.

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 15 Maart 2024

Môre

Besigheidseienaars moet baie versigtig wees. Ons het Woensdag 'n baie onstellende insident gehad. Dinsdagmiddag daag 'n groep nie blanke manne, blykbaar Xhosa sprekend, by 'n olie handelaar op met 'n platbak trokkie. Die manne wil glo olie koop.

Die personeel word vasgemaak en in 'n kantoor ingedruk waar hulle toegesluit word. Die manne gaan toe voort en laai etlike dromme en kanne ollie op die trokkie. Hulle ry weg. Teen die tyd wat die werkers kan alarm maak is die ouens al ver.

Soos wat ek kan sien ry hulle van Rustenburg, via Kroondal, Buffelspoort, Mooinooi op die R104. Die laaste wat hulle gewaar word is op die Sun city pad, die R556, rigting Mogwase. Van hier kon hulle basies in enige rigting ry, Ga-Rankuwa, Beestekraal, Warmbad, Thabazimbi en nog verskeie ander plekke.

Terug na die misdaadtoneel. Hier het ek baie vrae? Hoe het die ouens so maklik ingekom? Waar en hoe lank het hulle inligting ingesamel om presies te weet waar en hoe om die rooftog uit te voer? Hoe kon hulle so ver vorder om die mense in hul kantoor toe te sluit sonder dat enigeen kon alarm maak?

Mense wees wakker, jy moet dit só moeilik moontlik maak vir iemand om binne jou perseel op ongemagtigde plekke te kan inkom. Ja jou voorkantoor moet toeganklik wees maar bestuur die risiko. Sekere areas moet slegs personeel wees. Jou toonbank is 'n grens en hier mag jy die ouens al stop. Sit glas of traliewerk op om die ouens te keer. Pas toegangsbeheer op die voordeur toe. Plaas 'n beperking op die hoeveelheid klante binne jou perseel op enige gegewe tydstip.

Jy mag maar tralie opsit om mense te keer. Jy mag vereis dat die transaksie eers afgehandel word voor jy die voertuig toelaat om na jou stoor te ry. Jy mag toegangsbeheer toepas by jou stoor. Jy mag ook aandring op identifikasie voor iemand sekere dele van jou perseel betree. Jy kan ook reëlings maak dat die vrag bv eers uit jou stoor na 'n hou area verplaas word. Jy mag jou stoor hierna toemaak en dan die persoon toegang tot die hou area gee om te kan laai.

Enige klient wat 'n probleem met streng veiligheidsmaatreëls het, kan maar op 'n ander plek gaan koop. Dinsdag se insident was weereens net 'n waarskuwing oor wat kan gebeur. Dinge kon baie maklik baie sleg uitgespeel het vir daardie personeel. Ons weet almal hoe onvoorspelbaar hierdie mense kan optree.

Gaan dink mooi oor jou besigheid se veiligheidsmaatreëls. Kyk wat jy in plek kan plaas om jou mense en eiendom te beskerm.

Sterkte

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Maandag 18 Maart 2024

Môre

Ons stel so maklik uit, en die spreekwoord sê mos van uitstel kom afstel. Die wêreld is betreklik droog met die hitte wat ons so deurlopend teister hierdie seisoen. Veldbrande begin sommer al vroeg hierdie jaar en ja, soveel ouens is nie voorbereid nie.

Dieselfde gebeur met misdaad. Ons beleef tans 'n geweldige toename in misdaad in ons dorp en landelike gebiede. Baie ouens loop deur, die wat bietjie voorbereid is, nie so erg nie maar almal loop deur.

Voorbereiding is belangrik, baie belangrik. Kry jou goed in plek. Ons gaan taai tye in, die algemene verkiesing hierdie jaar kan net die katalisator wees waarvoor almal wag. Ons leer uit die geskiedenis dat dinge nie altyd so rooskleurig uitdraai as wat ons graag wil hê dit moet nie. So dit maak dus sin om vir die ergste voor te berei maar om te bid en hoop vir die beste.

Om voor te berei maak jou nie 'n ongelowige nie, inteendeel ons Heer het ons deur die gelykenis van die 10 maagde gewaarsku om voorbereid te wees op die koms van die bruidegom.

Kry jou vroeë waarskuwing stelsels in plek! Sjoe, tot my foon ken al daardie rympie. Wees voorbereid op wat kom. Ons is amper by die langnaweek, baie ouens gaan weer krokodil trane huil.

Vir die landelike ouens, kry jou brand toerusting nou reg, vandag nog want die brandseisoen is op ons en gaan erg wees. Min ouens is reg vir die een en dit gaan probleme veroorsaak.

Staan sterk en wees reg

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 19 Maart 2024

Goeiemôre

Oor bietjie meer as 'n week is dit Goeie Vrydag, lang naweek. Tradisioneel is dit 'n tyd vir wegbreek, gaan kuier by familie en vriende, samesyn.

Uit observasies oor die laaste paar maande wil ek versigtig 'n voorspelling maak dat hierdie komende langnaweek ook baie probleme gaan inhou vir ons. Ons sien 'n geweldige toename in misdaad en ek vermoed ons ouens wat tradisioneel oor die grense gaan hierdie jaar nie heeltemal so goed daaraan toe is om dit te kan doen nie, dus is daar 'n goeie kans dat die misdaad selfs gaan toeneem oor dié naweek.

Ek het jare gelede al besluit dat ek, sovêr ek moontlik kan, nie oor langnaweke op die pad gaan nie. Ek bly tuis, vermy die frustrasie van bestuur en vermy die risiko van inbrake terwyl ek weg is.

Ons reel dan liewer 'n ander naweek as langnaweek vir ons en doen dan iets terwyl die risiko laer is.

Hierdie jaar is daar 'n paar goed wat my bekommerd maak, diefstal uit motorvoertuie, veral bakkies. Ek sien dit is nou hoog mode om die kappie oop te breek en gereedskap asook ander waardevolle items te gryp.

Wat nog meer kommerwekkend is, is die toename in ontvoering en menseroof. Ek kry nou amper daagliks berigte van mense wat ontvoer word vir 'n losprys, meestal volwassenes en ook van pogings tot kinder roof. Die tweede is baie kommerwekkend want daardie kleintjie, gewoonlik onder 10 jaar, is baie maklik om te versteek en vervoer.

Mensehandel het sedert die grendel tyd geweldig toegeneem en is reeds besig om wêreldwyd 'n groot probleem te word. Juis om hierdie rede behoort ouers van klein kindertjies baie versigtig te wees om na vreemde plekke te gaan waar hul en hul kinders baie makliker die prooi van gewetenlose misdadigers kan word..

Ek het al voorheen baie gemaan en doen dit weer. Let op hoe jou juniors aantrek. Moenie 'n kind na bv 'n winkelsentrum neem in net 'n baaikostuum nie. Daar is baie siek siele daar buite wat regtig 'n onmenslike plesier put uit die aanskou van mooi kinders in min klere en maklik tot verkeerde dade sal oorgaan. Wees dus baie baie versigtig.

Hou, sovêr moontlik, jou kinders in hierdie besige tye uit winkelsentra. Moenie dat jou bloedjie 'n statistiek word nie.

Tot môre

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 20 Maart 2024

Môre

Ons het gister gepraat oor kinders en ook genoem van die siek mense wat daarop uit is om ons jongmense te steel. So kom daar gister weer 'n lelike storie by my uit van nog 'n jongeling wat hierdie siek mense ten prooi geval het. Gelukkig het hulle haar gevind voor dit te laat was.

Om terug te keer na die langnaweke en hoe mens optree terwyl jy so wegbreek, ek dink ons almal weet al teen die tyd om die duur goed tuis toe te sluit en maar met die minimum te gaan kuier. Selfone, skootrekenaars, selfs Bluetooth luidsprekers en deesdae ook geheue stokkies is baie gewild. Ek dink die gedagte is om meer emosionele skade te doen as om werklik groot finansieële implikasies te maak. Dit kom terug na terrorisme, 'n geestelike oorlog wat teen mens gevoer word.

Wees versigtig wanneer jy winkels besoek, daar is skielik 'n toename in besigheids rowe. Die ouens is baie voor opndienwa en stap helder oordag in 'n besige sentrum in en roof. Vermy hierdie situasies. Wees oplettend en moenie in so geval 'n held probeer wees nie! Jou lewe is nie 'n paar rand werd nie.

Ons weet van plaasaanvalle en die brutaliteit daarvan, ons weet van die aanhoudende aanslag teen ons, hetsy deur aanvalle, inbrake en diefstalle. Al hierdie dinge is terroristiese taktiek om mens emosioneel/ geestelik af te kraak. Verder kry die ouens dit reg om 'n wig tussen ons in te dryf deur mense teen mekaar te polariseer. Daar is die groepe wat probeer om harmonie te bewerk terwyl daar die klein groepie radikale is wat daarop uit is om anargie en woede aan te blaas.

Ek hoor die uitsprake wat vanaf sekere politieke verhoë gemaak word en ek sien ook die onderlinge strome tussen die onderskeie politieke rolspelers, meestal aan die linkerkant van die spektrum. Ek sien ook die internasionale tendense en in my leke opinie is ons besig om op 'n geweldige lelike storie af te stuur. Ek glo ook dat meeste van misdaad en onstuimigheid uit politieke kringe aangevuur word. Die mens het magsbehep geword, al hierdie dinge is slegs 'n poging om mag te hê en om mag te misbruik.

In kort se ek net, wees versigtig, moenie enigiets adverteer wat jy nie bereid is om te verloor nie. Al jou duur elektroniese items, kinders, voertuie en wat nog. Speel maar liewer baie veilig en probeer uit die kloue van die misdadigers bly.

Geniet die langnaweke en vakansie

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 21 Maart 2024

Môre

Misdaad raak al erger, meer brutaal en ook meer oop en bloot. Manne loop in 'n besige sentrum op 'n persoon af en brand op kort afstand los op 'n individue. Selfs waar 'n teiken by 'n verkeerslig of stopteken sit word sulke aanvalle in daglig en ten aanskoue van ander gedoen.

Selfs tuistes word helder oordag binnegegaan en beroof. Juis hieroor is dit nodig dat mens jou vroeë waarskuwing en ook fisiese grense deurlopend gebruik. Leer jou huismense om bv alarms om die huis aan te skakel wanneer hulle binne die huis is. Meeste kinders speel nie soos vroeër buite nie maar spandeer hul tyd voor die TV of rekenaar, leer hulle om die vroeë waarskuwing om jou huis aan te skakel om so vroegtydig gewaarsku te kan word van moontlike indringers.

Leer jou huismense, kinders, bediendes en so meer om goed soos veiligheidsdeure, hekke ens te alle tye gesluit te hou. As jy moet uitgaan, sluit die deur agter jou wanneer jy uitgaan en wanneer jy inkom. Ja dit is 'n tronk en ja dit is nie hoe ons wil leef nie maar ten minste leef jy! As jy dit nie doen nie loop jy die definitiewe risiko om aangeval te word.

Jy self moet ook leer om hierdie stelsels en items tot jou eie voordeel te gebruik. Net omdat jy tuis is beteken nie dat die aanval risiko laer is nie. Onthou die aanvaller is nie noodwendig daar om aan te val nie maar dalk om klein goedjies te steel wat hy van die straat af kan sien, wat gebeur as jy hom daar betrap? Kanse is goed dat dit in 'n konfrontasie gaan eindig.

Ek doen weer 'n beroep op besigheidseienaars, maak asseblief 'n definitiewe skeiding tussen die openbare en personeel gedeeltes in jou perseel. MOENIE TOELAAT DAT DIE ALGEMENE PUBLIEK NET INLOOP NA BV KANTORE, STORE ENS NIE. Skep 'n grens, wees waaksaam, die ouens raak geweldig arrogant.

Voorsorg is beter as nasorg en dit is makliker om van agter 'n fisiese grens soos 'n tralie jouself te verdedig. Ek noem spesifiek besighede want dit raak nou baie gewild om besighede te roof. Jy word besig gehou deur een of twee en wanneer jy weer sien is daar 'n derde of vierde persoon wat die hele storie inisieër, wees asseblief versigtig.

Ons gesels môre verder

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 22 Maart 2024

Môre

Net so kort boodskappie vanmôre om te sê, geniet jou naweek, wees veilig, bedink veiligheid en metodes om meer veilig te leef.

Wees geseënd hierdie naweek

Dawie Conradie
t.me/veiligheid101

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q