Landelike veiligheid
276 subscribers
165 photos
94 videos
15 files
756 links
Hierdie groep vra geen intekenfooi nie. Hier praat ons oor veiligheid, nie oor politiek of ander ouens se planne teen ons nie maar spesifiek oor self beveiliging. Ons sal praat oor geloof, Geloftedag, Christenskap en gebed
Download Telegram
Donderdag 13 Junie 2024

Môre weer

Ja so praat mens maar elke dag met mense en probeer hul oortuig dat hul veiligheid iets werd is. So sien jy ook elke dag dat mense nie werklik die erns van die saak begryp nie.

Ek en ander soos ek, weet ook nie aldag meer wat om te doen om mense te oortuig dat elkeen moet saamwerk om homself, sy gesin en ook gemeenskap te beveilig nie. Ek sou reken as jy nou jou karwiele verloor het aan diefstal, of selfs jou kar, jou gereedskap en wat nog alles, sal jy darem nou al begin verstaan dat jy iets moet doen. Ongelukkig blyk dit nie die geval te wees nie.

Ek het 'n vriend wat altyd sê "mense kry nóg nie swaar genoeg nie" en dit is een honderd persent die waarheid. Ons moet jou werklik eers bloei, mense aan die dood afstaan en dan steeds is die opkoms maar power.

Ek kan vandag nog in my motor klim en reguit na verskillende persele ry waar ek tot by die mense se voordeur gaan sonder enige obstruksie, hek of selfs hond wat blaf. Dan staan daardie voordeur oop, geen veiligheidsdeur, geen sleutel of slot aan die deur en hulle slaap waaragtig nog vanaand in daardie huis agter daardie deur wat nie sluit nie.

G'n wonder mense word amper daagliks nog in hul huise verras deur aanvallers nie. Dit dan nog terwyl hulle met volksvreemde werkers op hul grond sit wat dan so goed werk. Onwettige immigrante, wat sonder enige rekord die land in en uitgaan en enige tyd kan vlug.

Nee mense ek kan baie dinge verstaan, ek het ook geduld met baie goed maar met mense wat nie hulself wil help nie, daarmee raak my nerwe darem nou dun. Ek meen die mense sit in hul huise, weier om betrokke te raak, deel sowaar as vet nog inligting van ons buurtwag groepe met werkers en enigiemand anders wat wil kyk, net om dan te wil kla wanneer hulle aangeval word? Hoe in die lewe? Wat gaan deur so mens se kop?

Ek is jammer maar ek kan ook net soveel verduur, geen mens kan maande, jare lank sien hoe ons mense afgemaai word terwyl ons wel iets daaraan kan doen maar net mooi niks wil doen nie omdat ons te gemaklik is.

Seker maar verkeerd van my maar in so geval moet 'n ou mos nou maar bloei.

Verstaan mooi, ek praat nie van bejaarde mense nie. Nee ek praat van jong manne in hul vroeë dertigs wat wragtig vir my wil vertel daar bestaan nie so iets soos plaasaanvalle nie.

Van iemand wat bo 60 of 70 is kan ek verstaan want dit is mense wat uit 'n heel ander lewens uitkyk kom. Maar jonger mense wat elke dag die gevolge van hierdie goed sien en dit steeds ontken? Dit gaan my verstand te bowe.

Mense ons moet wakker word. As jy vandag nog nie agter gekom het dat die intensiteit van die misdaad aan't toeneem is nie, wat doen jy dan?

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 14 Junie 2024

Môre

Is jy 'n gelowige? Glo jy in Christus? Sou jy jouself bestempel as 'n Christen?

Glo jy dat God 'n plan het met jou? Ek is nie 'n geleerde teoloog nie, ek het maar soos so baie ander in die NG kerk grootgeword, gekatkiseer en daar aangeneem. Was diaken in ons gemeente en moes ook maar met teleurstelling verneem van dinge wat in ons gemeente plaasgevind het, predikante met klei voete wat ingegee het tot versoekings en nog baie meer.

Mense stel mens teleur, soms onwetend maar God was, is en sal vir altyd dieselfde bly. Nou kom ek by die boodskap wat die afgelope paar dae kort kort in my hart en gedagtes opkom.

Ons is hier aan die Suidpunt van Afrika geplaas met 'n doel. Ons Heer het destyds so opdrag gegee dat van Riebeeck en al die ander waaronder die Franse Hugenote, Duitsers en die res hulself hier kom vestig het. Hierdie voorvaders van ons kon gekies het om rustig te bly waar hulle was maar Hy het dit so bewimpel dat hulle hierheen moes kom en 'n nuwe nasie hier kom vestig.

Ek kan nie glo dat dit alles beplan was sodat ons uiteindelik hier uitgewis moet word nie. Ons God is 'n God van liefde, orde en dissipline. Tog kies ons as mense om Sy verordeninge te verdraai soos dit ons pas. Ek weet ek is self skuldig, en ek het geen verskoning nie. Ek gaan lankal nie meer kerk toe nie maar dit beteken nie dat ek my geloof en Christenskap verloën nie, inteendeel, ek glo steeds in God die Vader, die almagtige Skepper van hemel in aarde, en wat dan daarop volg.

Hy lê die afgelope ruk kort kort die vraag in my hart, hoekom is ek hier? Wat is my doel in hierdie Land? Ek kan baie maklik my goed oppak en terug verkas Europa toe, waar my voorouers vandaan kom maar is dit in Sy plan?

Ek glo dat ons hier is omdat Hy ons klompie hier wil gebruik. Ek glo ook dat Hy, Sy wil aan my sal bekend maak ter gelegender tyd. Nog nooit het Hy my in die steek gelaat nie, Hy het my nog altyd op die regte tyd laat voorberei vir dit wat Hy vorentoe vir my beplan. Nog elke keer, en ek glo in hierdie onsekere tye sal dit dan ook so wees.

Ek glo ook met my hele hart dat hierdie boodskappe wat elke dag uitgaan nie deur my eie wil of kennis is nie maar deur Sy wil en Sy plan. Met die hoeveelheid terugvoer wat ek al ontvang het weet ek hierdie boodskappe raak mense se lewens en weet ek ook dat Hy 'n plan het hiermee. Ek het nie nodig om te weet wat daardie plan is nie, al wat ek moet doen is om te gehoorsaam. Daarom stuur ek elke boodskap soos dit vir my gegee word.

Dankie vir elkeen wat lees, versprei en kennis neem. Dankie vir elkeen wat die inligting ter harte neem en gebruik. Iewers vorentoe gaan dit ons en Hom goed te pas kom.

Amen

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Maandag 17 Junie 2024

Goeiemôre

Uiteindelik lyk dit of die politieke toneel begin stabiliseer. Die president bly vir nou die president, die landskap lyk effe meer gunstig en hopelik sal die trae ekonomie nou weer begin lewe kry.

Wat wel kommerwekkend is, is die skerp toename in geweldsmisdaad die afgelope 10 tot 14 dae. Plaasaanvalle het werklik skerp gestyg terwyl ander vorms van misdaad nie ver agter is nie.

Slegs Vrydag was hier by ons gewapende rooftogte waar die misdadigers dit duidelik laat blyk het hul skroom nie om te skiet nie. Verlede Vrydag is 'n swaar voertuig met erts gekaap. Die voertuig is spoedig teruggevind maar nie voor die erts eers op 'n onbekende plek afgelaai is nie.

In ons eie area is ek bewus van twee aanvalle waar plaaswerkers geteiken is. Ek is ook bewus van vele kleiner misdade soos inbrake, diefstal ens.

Selfs motordiefstal en kapings het die afgelope tyd skerp gestyg. Dit kan toegeskryf word aan die rustigheid wat nou heers na die voorafgaande weke se paraatheid wat misdadigers se planne so bietjie gekortwiek het of dit kan ook net wees dat die euforie van die verkiesing begin taan.

Hoe dit ookal mag wees, ons moet skerp bly, wees oplettend, deel inligting en gebruik die inligting wat jy kry, tot jou voordeel. Wees paraat, hou jou deure gesluit en maak dit steeds so moeilik moontlik vir boosdoeners om hul doel te bereik.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 18 Junie 2024

Môre

Soos ek gister genoem het, merk ons dat die misdaad tans skerp toeneem. Aanvalle vermeerder en ek merk dat plaaswerkers nou ook erg geteiken word.

Ek het gister 'n berig gelees waarin melding gemaak word van verdagtes wat gearresteer is in verband met 'n aanval. Een van die verdagtes is jou werklikwaar 'n pastoor.

Ons sien ook dat baie van die misdaad in ons area deur blankes beplan en selfs uitgevoer word. Hierdie is in baie gevalle dwelmgebruikers wat die misdade pleeg om hul gewoonte te voed maar ook in baie gevalle teen mense wat hulle bv geld skuld.

Dit is dus baie moeilik om te bepaal wie mens kan vertrou en wie nie. Die tradisioneel "slegte" ouens begin opstaan as helde en omgekeerd.

Ek kan maar net weer sê, kry jou vroeë waarskuwing stelsels in plek, sorg dat jy jou roetines gereeld verander, wees paraat, moenie sommer self uitgaan om ondersoek in te stel nie, kry hulp van buite, sorg dat jou kommunikasie in plek kom, sluit aan by plaaslike veiligheidstruktuur, as daar nie is nie, stig dit self. Enige struktuur, hoe klein en ongeorganiseerd ook al, is beter as niks.

Vat hande met ander strukture, SAPD, ander buurtwagte van omliggende areas, veiligheid en sekuriteit maatskappye, selfs ouens soos ambulans en insleepdienste. Almal mense wat in tye van nood kan saamspan om te help.

Raak betrokke by ouens soos AfriForum wat kan ondersteuning bied. Moenie net sit en wag vir wat ookal mag gebeur nie, wees pro aktief, tree pro aktief op.

Maak inligting bymekaar, weet wie is om jou, wie om te vertrou en wie nie. Weet waar is die misdaad brandpunte, watter tipe misdaad word gepleeg en so meer. Die ou met die inligting is die koning. Ons almal ken mos die rympie? Om te meet is om te weet. Meet dit wat om jou aangaan, meet dit wat jy doen en balanseer dit teen dit wat jy weet om jou aangaan, is jy opgewasse teen dit wat jy probeer bekamp?

Sterkte en wees asseblief versigtig.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 19 Junie 2024

Môre

Wat is jou rol in jou gemeenskap? Is jy een van die reaksie ouens? Of dalk meer betrokke by logistieke, dalk is jy een van die mense wat inligting insamel en deurgee? Dalk is jy een van die massa mense wat net op die groep wa saamry sonder om ooit 'n woord te sê, die ou wat Vrydag of Saterdagaand by die braai vir sy vriende net die lekker sappige goedjies van die week deurgee.

Die gemiddelde groep bestaan uit minder as 10% aktiewe lede. Aktief beteken nou ouens wat bydra, inligting deurgee, deel in die radiogroep en ander groep aktiwiteit. Dis die ouens wat by vergaderings opdaag, so hier en daar help om patrollie te ry of bloot darem so hier en daar inligting deurgee.

Die ander <90% is net daar. Sit met sulke groot oë en kyk en sê/ doen niks verder nie. Dis dan ook uit hierdie geledere waar ons die meeste aanvalle sien. Dis die ouens wat sê kar wiele, batterye, tuinstoele, TV's en ander waardevolle items gewoonlik geneem word en wat dan nie kan verstaan wat aan die gang is nie. Dit is al oor en oor bewys dat die aktiewe ouens se risiko heelwat laer is as die wat altyd passief in die hoekie sit en stil bly.

Gaan kyk maar in jou gemeenskap, die ouens wat bedrywig is loop bitter min deur. Hoekom werk dit so? Daar is verskeie redes maar die mees algemene is omdat hierdie betrokke ouens meer ingelig is, meer paraat is, meer geharde teikens is. Dit gaan nie oor ouderdom nie, ook nie oor fisies aktief wees nie maar oor die vlak van gereedheid.

As jou bediende sien jy is gereeld in kontak met jou buurtwag deur middel van byvoorbeeld jou radio, dan loop die woord dat jy paraat en georganiseerd is. Dieselfde as jy reageer, sigbaar is. Dan loop die woord en hoewel die ouens nie noodwendig praat omdat hulle jou wil aanval nie, kom die inligting wel uit.

Dieselfde met die ou wat in twee weke se tyd nog nie die moeite gedoen het om die buurtwag groep se boodskappe te lees nie. Glo my, mense sien dit en mense weet jy is nie aktief nie. Dus is jy 'n sagte teiken.

Raak betrokke, wees aktief, al is dit net om gereeld die boodskappe te lees en waar nodig inligting deur te gee. Wees aktief, dit help jouself en jou gesin in die lang duur.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 20 Junie 2024

Môre

Veiligheid deur skyn. Gedurende die tweede wêreld oorlog het die Amerikaners met 'n plan vorendag gekom wat die oorlog heel moontlik ook so bietjie help stuur het. Hulle 'n afdeling gemaak wat daarop gekonsentreer het om die vyand te mislei deur illusie. Hulle het deur middel van opblaas tenks, vals radio kommunikasie, berigte ens die indruk geskep dat daar twee afdelings, ongeveer 30 000 man, ekstra op die grond is. Hoewel baie slim was hierdie nie die enigste keer wat misleiding gebruik is om die vyand om die bos te lei nie.

In Feb 1986 word die film FX Murder by illusion vrygestel. In kort die storie van 'n spesiale effek kunstenaar wat die polisie behulpsaam is om 'n moordenaar vas te trek. Gaan soek dit gerus op Youtube.

Ons kan vandag steeds veiligheid bereik deur illusie. Deur die illusie te skep dat daar bv heeldag en heelnag iemand op jou perseel wakker is, kan voornemende misdadigers goed die skrik op die lyf jaag. Deur 'n paar keer vinnig en effektief op vroeë waarskuwing te reageer kan die lussie skep dat 'n misdadiger maklik gevang kan word op 'n perseel, skrik so persoon gewoonlik af van daardie perseel af.

Daar is honderde voorbeelde wat ek al gesien, sommige self beleef en selfs 'n paar self uitgevoer het met groot sukses. Ons almal ken sneller drade, "trip wires" en hoe jy bv 'n skadelose skoot kan laat afgaan om betreders die skrik op die lyf te jaag. Ons ouers en voorouers het dit gereeld gebruik om ape, bobbejane en ander probleem diere uit hul groentetuine te hou.

Deur net snags ligte in sekere dele van jou huis aan te hou skep ook die illusie dat iemand wakker is, selfs as jy daardie ligte elke keer as iemand opstaan om draai te loop of water te drink, te ruil tussen vertrekke soos bv TV kamer en kombuis, kan regtig baie doen vir daardie illusie.

Weereens moet die uitvoering geheim gehou word en slegs huismense, geen buite personeel, moet hiervan bewus wees nie. Met illusie kan jy baie dinge bereik met min mense.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 21 Junie 2024

Môre

Ek word beskuldig daarvan dat ek alle mense van kleur oor dieselfde kam skeer wanneer dit by misdaad kom.

My redenasie is bietjie anders en ek gaan dit weer probeer verduidelik. Veronderstel ek is 'n werker in jou huis of tuin. Ek is 'n goeie ou wat, net soos jy, nie misdaad duld nie. Ek werk Maandag tot Saterdag middag eenuur en is baie tevrede want jy behandel my goed, ek sukkel nooit om my salaris te kry nie, kry gereeld 'n ietsie ekstra soos wanneer julle gaan jag, en ou klere en sulke goed. Ek is lief vir die mense vir wie ek werk en sal julle beskerm met my lewe.

Ek is ook altyd bly wanneer ek sien dit gaan goed met julle, julle word geseën met mooi geld en goed. Saterdagaand kuier ek saam met my mense en dan vertel ek hulle hoe goed julle vir my is, ek is so trots op my werkgewer want hy doen so goed. Hy het die week 'n nuwe TV gekoop, so groot een. Ook die week het hy 'n nuwe kar gekry, Toyota Landcruiser VX.
Hy kon die kar en die TV koop met die geld wat hy gekry het van 'n polis.

Ons almal is gelukkig omdat ek by so goeie man werk want daardie ou TV is nou myne. Ons het vanaand lekker storie gekyk hier.

Goed sovêr niks verkeerds nie nè behalwe dat my suster en haar seun wat hier kuier, se laaitie 'n nyope koppie is. Ek het nie geweet nie, maar die slegte kind het dadelik sy maatjies laat weet van al die geld wat my werkgewer gekry het en sal jy glo voor ons mooi weet wat aangaan is ons vanaand geroof. Ook daardie TV wat ek persent gekry het, is nou weg. Hulle het ons vasgemaak en is nou op pad na jou huis toe.

So maklik kan dinge skeef loop. Nêrens was jou werker doelbewus betrokke by enige onwettigheid of selfs kwade bedoeling nie maar deur net vir sy eie mense te vertel van jou sukses is julle albei nou vanaand in die moeilikheid.

Omdat ek hierdie tipe scenario so baie gesien ontvou het, het ek ook al geleer om niemand te vertrou nie. Dit is ongelukkig so dat die pad na die verderf geteer is met goeie bedoelings.

Sterkte vir elkeen, geniet die naweek wat voorlê

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Maandag 24 Junie 2024

Môre weer

As ek kyk hoe ander lande noodtoestande benader, besef ek net weereens dat ons hier in Suid-Afrika erg aan die elemente uitgelewer is. Baie van ons is seker bekend met die Amerikaners se tornado sirenes of die Japanese se tsunami waarskuwing stelsels.

Hier by ons bestaan daar nie die dringendheid om sulke stelsels in plek te sit nie met die gevolg dat ons redelik gereeld hoor van natuur en ander rampe wat in ons land plaasvind.

Dink maar aan goed soos die Tulbach aardbewing, Laingsburg vloed en selfs die Westdene busramp. Hierdie gevalle het almal plaasgevind in 'n tydperk toe daar nog redelike beheer van regeringskant was maar intussen weet ons almal ook dat ons regering op die oomblik spartel om iets so eenvoudig soos kragvoorsiening onder die knie te kry.

As daar vandag 'n natuurramp op die skaal van Laingsburg moet plaasvind glo ek dat duisende lewens verlore sal gaan. Hier in ons dorpie voorsien ons al lankal 'n groot natuurramp aangesien verskeie informele nedersettings hulself gevestig het in die vloedvlaktes van ons dorp spruit. Dit gekoppel met die feit dat ons oor jare natuurlike vleilande droog gelê het en boonop nog teerstrate en plaveisel oral ingesit het, kan mens net wonder wat sal gebeur as vloedwater ons dorp onverwags moet tref.

Hier is dan ook waar ek vandag my aanknopingspunt wil maak. Hoe voorbereid is ons vir soortgelyke rampe en gevalle. Hoeveel van ons sal kan georganiseerd wees en aan georganiseerde teen veldtogte kan deelneem?

Is daar enige gebeurlikheid planne in plek en as daar is, hoeveel mense is ingelig en betrokke? Het ons van ons kant af sulke planne in plek? Wat maak ons as dinge skeefloop en die owerhede kan nie van hulp wees nie.

Is dit nie tyd dat ons hieraan moet begin dink nie? Moet ons nie planne en stelsels in plek kry vir verskillende situasies nie. Dit hoef nie net natuur rampe te wees nie, dit kan iets baie kleiner wees soos bv die sabotasie van hoof krag toevoer na dorpe, stede of selfs streke. Dan praat ek nie eens van politieke onstabiliteit nie.

Het jy gebeurlikheidsplanne in plek in jou huis, gemeenskap, dorp of stad? Dit is net soos dood en begrafnis,mens wil nie regtig daaraan dink nie maar dit kom en wat maak jy as dit kom? Hoe hanteer jy dit. Hopelik het jy 'n plan in plek en kan jy darem een van die wees wat jou kop kan hou terwyl almal om jou hulle s'n verloor.

Ek weet ek hamer baie hierop maar mens moet darem ook besef dat dinge nie altyd goed gaan nie en dat jy somtyds in slegte omstandighede kan beland.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 25 Junie 2024

Môre

As mens kyk na onlangse wêreld gebeure soos bv die oorloë in Oekraïne en Gaza, sien mens dat een van die eerste goed wat regerings doen, is om internet toegang aan die begin van so groot insident te staak. Dit is dus duidelik dat die persoon/ entiteit wat inligting beheer, beheer die situasie.

In 'n geval waar 'n ondersese kabel byvoorbeeld beskadig of gesaboteer word, verloor groot dele van die bevolking hul toegang tot inligting. In so geval word dit baie maklik vir iemand anders om beheer oor jou omstandighede oor te neem.

Waar ek woon, en ek glo op baie ander plekke ook, gebeur dit so dat mens selfoon sein verloor wanneer die krag afgaan. Misdadigers het die selfoon torings se batterye al soveel keer gesteel dat dit nie meer die moeite werd is vir die maatskappye om dit te vervang nie. Een of twee torings word gefortifiseer terwyl die res dan sonder batterye gelaat word. Die uiteinde is gemeenskappe wat letterlik en figuurlik in die donker gelaat word elke keer wanneer die krag afgaan. Jy kan nie bel nie, jy't nie internet toegang nie dus is jy blootgestel.

As mens nou kyk na ambassades van verskillende lande, sal jy sien dat hierdie ouens almal alternatiewe kommunikasie planne in plek het. In meeste gevalle is dit dan ook 'n kombinasie van ou en nuwe tegnologieë. Hulle gebruik meestal satelliet fone en ander satelliet verbindings maar ook kortgolf tweerigting radio. Alles 'n manier om kontak met hul onderskeie regerings te behou.

Nou as hierdie ouens dit nodig vind om op internasionale vlak steeds kommunikasie te behou, wat maak ons dan so uniek dat ons dit nie wil doen nie?
Ons kan mos onder onsself organiseer om radio kommunikasie te bou en behou vir tye van nood.

Het jy al ooit nodig gehad om 'n ambulans te ontbied vir 'n noodgeval net om te vind jou selfoon is nie werkend nie? Dit het al by geleentheid met my gebeur dat ek erens tussen niks en nêrens op 'n ongelukstoneel afkom. Ek het darem die voordeel dat ek beide amateur radio sowel as marnet radio in my voertuig het. Uit my voertuig uit het ek normaalweg so tussen 30 en 50 Km reikwydte met die radio's en ja dit het my op meer as een geleentheid al uit die moeilikheid gehelp.

Selfs net jou gewone buurtwag radio is 'n reuse hulp daar om die kospotte. As jou foon nie werk nie kan jy steeds hulp ontbied as jou kind of kleinkind 'n arm of 'n been breek. Ek noem nou sulke situasies maar eintlik vir alle nood hetsy beserings of aanvalle of wat anders ook al. Belê daarin om alternatiewe kommunikasie in plek te kry.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 27 Junie 2024

Môre

Ons het vandag soveel tegnologie, inligting en ander hulpmiddele beskikbaar dat ons nie werklik meer 'n verskoning het as dit kom by veiligheid nie.

Toe ek ongeveer 35 jaar gelede in die veiligheid bedryf betrokke geraak het, was veiligheid en sekuriteit amper 'n luukse in ons stede en dorpe. Baie mense het destyds nog met hul oop vensters geslaap en weinig het enigiets meer as 'n gewone plank deur aan hul huis gehad.

Stadig maar seker het dinge begin verander, eers het diefwering aan vensters 'n noodsaaklikheid geword, daarna veiligheidsdeure, en so het dit voortgebou. Vandag leef baie mense in huise wat oor meer stelsels beskik as 'n gemiddelde tronk, en steeds neem dit toe.

Die denkrigtings en het natuurlik ook baie verander. Eers het ons baie basiese alarms gehad, min hiervan het aan 'n reaksie maatskappy gerapporteer en die wat wel het, het meestal telefoon lyne gebruik. Toe ek begin betrokke raak het telemetrie stelsels net gewild begin raak. Jy kon dus jou alarm via radio sein aan die beheer kamer laat rapporteer.

Destyds was die tegnologie nog in sy kinderskoene. Stadig het dit ook ontwikkel tot waar ons vandag met IP sisteme tweerigting kommunikasie met jou alarm paneel kan bewerkstellig tot so mate dat tegnici sekere verstellings aan die stelsel kan maak van sy selfoon sonder om jou huis eers te besoek.

Alarms het ook 'n skuif gemaak, eers net binne die huis, later binne en buite en vandag amper eksklusief net buite waar dit 'n vroeë waarskuwing stelsel kan wees. Alarms, elektriese heinings en selfs goed soos hekmotors en buiteligte begin al meer met mekaar integreer en jou alarmstelsel begin al meer 'n tuis outomatiseer stelsel word, jou hek kan bv die opdrag gee dat buite ligte moet aanskakel of garage deur moet oopmaak en alarm moet afskakel as 'n gemagtigde gebruiker dit oopmaak. Alles werk met 'n App en dit is deesdae ook die nr 1 vraag, kan ek dit op my foon doen?

Tog is ons lewe vandag steeds baie meer onveilig as 35 jaar gelede en word dit elke dag net nog meer so. Ons sien egter dat mense steeds baie blasé is oor hul veiligheid en baiekeer nie eens die basiese goedjies in plek het nie.

Ek kan maar net wonder hieroor

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 28 Junie 2024

Goeiemôre

Kommunikasie, veral in 'n plaas, buurtwag situasie is uiters belangrik. Eerstens is dit belangrik om inligting aan lede deur te gee. Inligting kan wissel van die alledaagse verdagte persone tot inligting ivm misdade wat reeds gepleeg is of selfs wat nog mag voorlê. Dit is belangrik dat hierdie inligting gedeel word maar ook deur een of twee toegewyde lede geanaliseer en verwerk word tot iets wat bruikbaar is.

Mens sal ook sensitief wees met sekere inligting, jy sal byvoorbeeld nie inligting rakende 'n definitiewe aanval wat geloods gaan word op 'n oop groep plaas nie. Eerstens weet mens nie hoe dit die uiteinde van die saak kan benadeel.nie en tweedens is daar altyd die moontlikheid dat iemand op sulke inligting kan reageer as vigilante en groot probleme kan veroorsaak.

Dan is daar die stiptelikheid faktor. As jy vandag inligting ontvang help dit nie regtig as jy die inligting eers dae na die insident gaan deel nie. Stiptelikheid in die algemeen is nogal belangrik wanneer mens met veiligheid en sekuriteit werk. Weereens sal dit nie werk as mens vergadering reel en dan daag die ouens wat die vergadering reël laat op nie, of selfs jou radiotoets wat saans 20:00 is word skielik uitgestel en vroeër gemaak sonder die nodige kennisgewings en dit omdat een of twee persone die tye ongeleë vind nie.

Waar dit kom by veiligheid moet mens maar se effe militaristies wees, streng orde en dissipline moet toegepas word anders val die ding naderhand uitmekaar. Elke ou wil mos nou maar eenmaal 'n one man army wees en dan is daar nog al die ouens wat in hierdie sameswering teorieë glo wat dit met almal wil deel. So kan mens aangaan maar die punt bly steeds jy moet streng kan standhou en mense wat nie inval by die reëls nie vinnig kan kortvat.

Sterkte met wat elkeen van julle aanpak en doen en onthou die kortste pad na sukses is op jou knieë.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Maandag 1 Julie 2024

Môre

Op 'n oggend soos vanmôre sit ek en kyk hierdie skoon bladsy en wonder, wat moet ek sê? Wat meer kan ek sê, ek is nie lus om dit wat oor die laaste 3 tot 4 jaar gesê is weer te sê nie. Maar dan dink ek weer, daar is so baie wat dalk nog nie gehoor het nie en daar is so baie wat dalk onwetend in lewensgevaar verkeer en dalk sal een boodskappie iewers daar buite een ou se lewe red, dan begin ons maar weer.

Ek het al by geleentheid die storie vertel van Koos wat werk gekry het by die saagmeule. Eerste oggend by die nuwe werk sommer so 10 minute na die werksaamhede begin het, sny Koos sy een vinger stomp teen sy hand af. Gelukkig ken die ouens al die storie, gryp die vinger, sit dit in 'n sak ys, jaag met koos en die vinger na die hospitaal waar 'n briljante neurochirurg die vinger weer aanwerk.

Ses weke later is koos terug by die werk. Vinger is so goed soos nuut en baie trots wys Koos nogal die chirurg se handewerk aan almal. Die baas roep Koos en sê vir hom, " Koos, ek moet nog verslae en ander goed indien, kom vertel nou mooi vir my wat het verkeerd geloop daardie oggend"
Koos antwoord: "Meneer ek weet regtig nie, ek het net my vinger in hierdie gaaitjie gedruk en haai kyk! Daar gaan hy weer . . ."

Nou ons mense is baie soos Koos, ons hou aan om dinge op dieselfde manier te doen maar verwag dan dinge moet anders eindig. Dit kan nie so werk nie! Jy kan nie aanhou om jou vinger elke keer in daardie gaaitjie te druk en te verwag dit gaan wonderbaarlik eendag nie afgesny word nie! Dit werk net nie so nie.

Jy kan nie steeds dieselfde veiligheid stelsels gebruik wat jou pa en oupa 120 jaar gelede gebruik het nie! Jy gaan bloei en as jy regtig baie gelukkig is gaan jy net jou vinger verloor.

Mense, tye verander, modus operandi verander, jy kan nie verwag dat dinge dieselfde moet bly jaar na jaar nie. Moet ook nie dink dat jy alles binne 1 dag of week moet hernuwe nie.

Tyd is kosbaar maar ook geduldig. Werk strategies en met 'n plan. Ek sien so baie ouens wat op een slag derduisende wil spandeer aan veiligheid en dan hulself vasloop in strikke. Onthou dat enige verskaffer van sekuriteit wil geld maak. Geen mens doen besigheid net vir die pret daarvan nie.

Jy moet dus self ook bietjie weet wat jy wil doen, hoe jy wil hê jou stelsels moet werk en wat alles jy benodig. Ja jy mag jou laat lei deur die kenner maar moenie alles vir soetkoek opeet nie.

Wees slim en wees wakker en bowenal, bly by die tye. Daardie eerste alarm wat jou pa in die huis laat sit het in 1980 is nie meer voldoende nie my vriend. Daardie alarm was al in 1981 verouderd. Bly by die jongste idees en planne. Nie eens misdadigers gebruik dieselfde tegnieke as in 1980 nie.

Ons sien dat modus operandi omtrent elke 6 tot 8 maande verander. Jy moet buigbaar wees om aan te pas by hierdie nukke en grille.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 2 Julie 2024

Môre

Ons het gister gepraat en gesê dat dinge verander, dat misdaad tendense gedurig ontwikkel en dat ons moet aanpas by die tye. Nou hoor ek baie keer dat mense sê "Maar ek het nie geld nie" en dit is baie waar. Moderne veiligheid stelsels kos geld, baie geld. Ek ken mense wat letterlik honderde duisende rande gespandeer het en steeds nie veilig is nie. Daarom het ek gister gesê, jy moet self ook navorsing doen, self uitvind en bepaal wat vir jou gaan werk. Jy gaan die goed gebruik, jy ken die skuiwergate in en om jou plek beter as enigiemand. Gebruik hierdie kennis tot jou voordeel. En dan baie belangrik, BEGIN NET.

Lao Tzu het gesê " 'n Reis van 'n duisend myl begin met die eerste treë" begin net, al is dit met 'n eenvoudige rooi liggie wat by jou voordeur brand om ander te laat dink jy het 'n alarm. Dit gaan jou letterlik 'n paar sent kos en as jy dit laat doen seker maar paar rand maar dan het jy reeds begin. Jy't nou begin, nou moet jy net aanhou beweeg. Elke maand een dingetjie aankoop, elke twee of drie maande dit laat installeer en voor jy weet het jy 'n redelike stelsel. Hou net aan beweeg

Werk met 'n plan. Moenie sommer enigiets koop net omdat iemand dit aanbeveel nie, doen navorsing, Google is mos jou maaitjie. Gaan kyk eers of die stelsel vir jou sal werk en of dit aan jou huidige en toekomstige behoeftes gaan inpas.

Hou ook in gedagte dat 'n alarm binne jou huis nie meer regtig die beste is nie. Ek wil nie weet as iemand binne my huis is nie, ek wil weet sodra hy my perseel binnekom. Ek wil reageer sodra daardie ou oor die draad, muur of ander obstruksie klim. Hy moet ook weldeeglik weet hy gaan weerstand kry van binne my werf. Hy gaan nie net daar inloop sonder enige gevolge nie.

Moenie net 'n lam ter slagting wees nie, jy kan en mag jouself verdedig. Doen dit

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 3 Julie 2024

Goeiemôre

Energie kan nie geskep of vernietig word nie, energie kan net van een vorm na 'n ander verskuif. Ons kan bv chemiese energie deur middel van 'n eksotermiese reaksie omskakel na meganiese energie en hitte met 'n binnebrandenjin in ons motor. Jy kan nooit meer energie uit 'n reaksie kry as wat jy daarin sit nie.

Hierdie konsep werk ook op ander vlakke van jou en my lewe byvoorbeeld met geld, werk, selfs jou huwelik! Jy kan nie meer uitkry as wat jy daarin sit nie

Dieselfde geld vir jou veiligheid! As jy nie bereid is om tyd, energie, denke en finansies in te sit nie, gaan jy nie veiligheid uitkry nie. Jy moet doelbewus aan jou planne en sisteme werk om beter veiligheid te kry. Doelgerig, met ander woorde jy moet beplan en sekere aksies in plek sit soos bv om jou deure deurlopend gesluit te hou, jou alarms aan te skakel, heinings in stand te hou, jou waardevolle goed weg te bêre agter slot en grendel waar wellustige oë nie kan sien nie.

Veiligheid is nie goed wat jy het nie maar wel die dinge wat jy doen. Ek kan al die "goed" in die wêreld hê maar as ek dit nie gebruik nie gaan ek geen baat daarby vind nie. Jy kan nie meer uithaal as wat jy insit nie en wat jy insit gaan uiteindelik bepaal wat jou risiko faktor en dividende gaan wees. Inset + risiko = wins. Dit laat klop nou my welvaart skepper maatjies se harte warm.

Feit is net my liewe vriende dinge gaan nie vanself gebeur nie. Niemand is so lief vir jou dat hy jou gaan beveilig en veiligheid om jou skep nie. Jy is die een wat daardie verantwoordelikheid dra en ook die verantwoordelikheid het om dit aan jou kinders te leer, oor te dra, en in te skerp. Veiligheid is die een ding wat geen geld kan koop nie, want dit is 'n lewenswyse. Ek sê weer, geld kan die gereedskap koop, die alarmstelsel, die elektriese heinings, outomatiese hekke maar dit kan jou nie oortuig om hierdie goed, hierdie gereedskap, te gebruik nie. Net jy kan dit doen.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Donderdag 4 Julie 2024

Môre sê

Alarmstelsels, elektroniese hekke, elektriese heinings, kameras, vuurwapens en dies meer, is nie veiligheid nie. Aardskuddend né, maar waar. Jou 9 mm Glock is nutteloos! As jy dit nie in jou hand het die oomblik wanneer die misdadiger op jou losbrand nie, is dit nutteloos. Maar meer nog as jy nie weet hoe om daardie Glock te laai en gebruik nie, is jou kanse maar redelik skraal. Ek het jare gelede 'n man geken wat altyd sy vuurwapen aan sy sy gedra het, altyd!

Eendag begin ons so gesels en hy haal die rewolwer toe uit. Hy wil die wapen toe vir my wys. Ongelukkig vind hy toe uit dat daardie wapen so lank laas gebruik en skoongemaak is, dat die rol vas geroes het en hy dit dus nie kon veilig maak nie.

Wanneer laas het jy jou wapen gebruik, gaan skiet jy darem so nou en dan 'n paar rondtes om in oefening te bly? Wat gaan gebeur as jy nou jouself moet verdedig en jy kyk nou in 'n man se oë met die wete jy gaan hom nou doodmaak? Sal jy daardie skoot kan aftrek en meer nog, sal jy akkuraat kan wees?

Skakel jy jou alarmstelsel gereeld aan, is jou veiligheidshekke gesluit? Wat van jou elektriese heinings? Motorhekke, garage deure, kamera stelsels? Weet jy hoe om hierdie goed effektief te gebruik? Glo dit as jy wil hierdie goed, gereedskap, is net so belangrik as jou vuurwapen, dalk nog meer omdat dit goed is wat vir jou tyd koop om gereed te maak met jou wapen.

Weet net jou wapen, is niks werd as jy dit nie kan gebruik nie. As jy middernag wakker word met 'n koue loop teen jou kop, gaan jou fancy gun met sy laser sights en al die ander gadgets net 'n mooi herinnering vir jou vriende wees.

Jy het jou alarms en ander gereedskap nodig om jou wapen effektief te kan aanwend. Jy storm ook nie blindelings by jou deur uit nie. Al is jy die beste skut in die wêreld en al het jy die beste reaksie tyd, is jou kanse om reg voor jou deur doodgeskiet te word 99.9%

Jy het 'n groot area om deur te kyk wanneer jy by daardie deur uitkom, die ou wat jou wil doodmaak? Hy't 'n area van ongeveer 2m² die grote van jou deur want dit is al waarop hy moet konsentreer. Jy het nie regtig 'n kans nie.

Moenie skaam wees nie, kry hulp van buite, wees deel van jou gemeenskap strukture, want jy gaan jou bure nodig hê.

Jou veiligheid gereedskap moet altyd in tip top werkende kondisie wees. Jy kan nie bekostig om daarsonder te wees nie want glo my, iemand weet of dit werk al dan nie. Maak dit of laat maak dit so gou moontlik reg. Dadelik indien moontlik.

Wees versigtig vir werkers, mense wat jou huis binnekom op gereelde basis. Hulle kan praat, selfs onskuldig. Dink 2 keer vriend.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Vrydag 5 Julie 2024

Môre

Hoe lyk dit om jou huis? Is jou plekkie netjies? Of lê daar 'n klomp skroot en ander goed wat jou kan pootjie wanneer jy in die donker daar moet loop.

Waar is jou tuingereedskap? Is dit netjies weggebêre in 'n toesluit vertrek of motorhuis? Is jou plek 'n lushof vir 'n misdadiger? Kan hulle inloop en jou beroof sonder dat enigiemand daarvan weet of is jou plek goed beveilig met vroeë waarskuwing stelsels op strategiese plekke waar hoë waarde items geberg word?

Dan wil ek jou vra, weet jou kinders hoe om te reageer wanneer hierdie vroeë waarskuwing stelsels alarm maak? Wat van wanneer jy nie tuis is nie? Weet jou kinders hoe om alarms te aktiveer, of om hulp te ontbied? Of maak jy jou kinders groot op so wyse dat hulle nie eens weet dat die wêreld gevaarlik is nie?

Jy gaan nie altyd daar wees nie en ongelukkig moet mens maar jou kinders ook leer hoe die goed werk. Solank hulle onder jou dak woon, moet almal weet hoe om die nodige stelsels te aktiveer en hanteer.

Dit is dan ook belangrik dat jou plek moet veilig en toeganklik wees vir mense wat moet reageer in gevalle waar jou gesin in gevaar verkeer. Dit is ook slim om jou hoë waarde items weg te bêre omdat dit wat nie gesien kan word nie 'n baie kleiner aantrekkingskrag het as bv die splinternuwe fietse wat sommer oop en bloot die werf vol lê.

Mens moet verstaan dat jy moeilikheid aantrek na jou deur dit wat jy adverteer. As jou kinders se nuwe fietse die wêreld vol lê, jou gereedskap nie gebêre en toegesluit is nie, tuingereedskap die wêreld vol lê en nog soveel meer, dan kan jy mos nou maar verwag dat die misdadiger jou plek gaan teiken. Hulle gaan nie daar wegbly net omdat jy so gesê of gedink het nie.

Veiligheid en sekuriteit lê grootliks in jou aksies, optrede en lewenswyse. Gaan kyk maar na ouens waar daar jare laas (of nog nooit) ingebreek is. Wat doen hulle anders? Leer bietjie by daardie ouens want die lewe is te kort om al die foute self te maak.

Lei jou kinders van kleins af op om veilig te lewe, leer hulle 'n veilige leefwyse, leer hulle ook om oplettend en paraat te wees. Maak jou kind so groot dat hy/sy in staat is om veilig te leef sonder jou, want niemand leef vir altyd nie, niemand is altyd tuis by sy kinders nie.

Dit klink baie romanties om jou kinders groot te maak met rooskleurige lense vir die lewe maar dit is baie onprakties. Wees slim, wees prakties. Ek sê nie jy moet jou kind na 'n aanval toneel neem nie. Spaar die arme bloedjies die smerige besonderhede maar leer hulle nugter dink en leer hulle om prakties te dink en op te tree.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q

Ns. Hierdie hele week se gesprekke is reeds verlede Sondag oggend voor kerk geskryf.

Baie dankie aan my Hemelse Vader wat my lei om hierdie boodskappe te tik, wat my help om die regte goed op die regte tye te skryf.

Mag dit ingang vind en iewers iemand se lewe positief beïnvloed.

Amen
Maandag 8 Julie 2024

Môre

Ek voel ek moet vanmôre bietjie gesels oor tweerigting radio. Ek weet ek het hierdie inligting al voorheen gedeel maar daar is steeds mense wat nie mooi verstaan nie.

As jy besluit om 'n tweerigting radio aan te skaf is daar 'n paar goed waarna jy baie mooi moet oplet. Die belangrikste ding waarna mens moet oplet is dat die radio 'n "ICASA type approval" plakkertjie moet hê

Ek weet die China malls en selfs aanlyn verkopers verkoop radio's wat nie aan hierdie vereiste voldoen nie. Dit stel jou as radio gebruiker bloot omdat die owerhede baie streng is op die gebruik van hierdie radio's.

Ek het destyds 'n stel afgetrap omdat ek 'n steuring op een van my frekwensies aangemeld het. Onwetend het ek in die proses 'n aangrensende buurtwag in die moeilikheid laat beland omdat hulle radio's gebruik het wat nie aan hierdie vereiste voldoen nie.

Tweedens moet mens seker maak die radio wat jy aankoop is versoenbaar met dit wat jou buurt of plaaswag gebruik. Jy moet seker wees die buurt of plaaswag maak gebruik van gelisensieerde frekwensies. Die ouens in beheer behoort op aanvraag vir jou 'n sertifikaat te kan toon waarop die frekwensies aangedui word. Derdens moet jy ook seker wees dat die frekwensies in jou area toegeken is. Meestal word frekwensies toegeken op 'n 50km radius basis om 'n sekere punt, bv die huis of besigheid adres van die persoon of instansie wat lisensiehouer is.

Dan is dit ook belangrik om te weet of jul radio netwerk op 'n radio tot radio basis of herhaler netwerk staatmaak. Vir lewens noodsaaklike kommunikasie is dit meer gewens om liefs radio tot radio of dan simpleks kommunikasie te gebruik.

Ek dink ek gaan môre bietjie meer hieroor uitbrei

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Dinsdag 9 Julie 2024

Goeiemôre

Radio: Waarna moet 'n beginner kyk wanneer jy 'n radio gaan koop? As jy by 'n bestaande radiogroep wil inskakel is dit belangrik om te weet op watter band die groep werk.

Daar is verskillende bande waarop ons tans werk in Suid Afrika. Ons werk hoofsaaklik op BHF, baie hoë frekwensie, wat opgedeel word in twee bande naamlik Midband, 66 MHz tot 88 MHz ( hierdie staan ook bekend as MARNET of Burg B) en Hoë band 137 MHz tot 174 MHz.

Ons gebruik ook UHF, Ultra hoë frekwensie wat strek vanaf 400 tot 470 MHZ. Hier en daar is daar nog outjies wat werk op Burger band, wat nie verwar moet word met Burg B of MARNET nie want burger band (CB) werk hoofsaaklik op 27 MHz of Hoë Frekwensie HF wat basies aan die bo punt van die kortgolf band is.

Sjoe dit klink baie tegnies. Daar is nog ander frekwensie bande tussenin maar dit is nie van toepassing op ons gesprek nie.

Goed so jy moet weet gebruik die ouens BHF of UHF en as hulle BHF gebruik is dit hoë band of midband.

Wat baie interesant is van die verskillende bande is dat elkeen homself leen tot 'n spesifieke aanwending. Hoe hoër die frekwensie hoe korter word die golflengte. Dit is redelik belangrik om te weet waar jy die radio's gaan aanwend. As mens kyk na die midband frekwensies is die golflengte so in die omgewing van 4 meter. Dit wil dus sê as mens na die golf kan kyk wat opgewek word dan is die afstand van enige plek op daardie golf tot by die volgende ooreenstemmende plek ongeveer 4 meter. Op hoe band is dit so tussen 2.2 en 1.5 meter en op ultra hoë frekwensie so tussen 44 en 35 cm.

Nou hier is 'n baie oulike analogie. Veronderstel jy stap deur 'n vars geploegde land, daar is sulke lekker groot sooie grond waaroor jy loop. Dit is effe ongemaklik maar jy kan aangaan. Nou loop daar 'n kleuter deur dieselfde land, sy kort beentjies sukkel erg en hy val maar lekker rond oor die groot kluite.

Nou tel jy daardie kleinding op en gaan huis toe, jy kom by die huis en daar sien jy, lê 'n R2 munt onder 'n kas. Jy't geen hoop om dit daar uit te kry nie maar woerts warts haal daardie kleinding dit daar uit. Jy is soos daardie midband frekwensie, soos jy met jou lang bene, kan midband lekker oor berge en dale beweeg, maar kan nie lekker in klein plekkies inkom nie. In die middestad sukkel midband tussen die geboue om afstand te kry maar soos daardie kleinding met sy lekker kort beentjies en armpies kan UHF lekker tussen die obstruksies van geboue inkom, ons sê dit het goeie penetrasie vermoë om tussen en binne geboue in te kom.

Hoe band BHF het amper die beste van beide wêrelde alhoewel dit eintlik net 'n goeie kompromie is. As mens baie lang afstande wil dek tussen radio's werk HF en tot 'n mate BHF midband baie lekker. As jy goeie indring of penetrasie vermoë benodig, is ultra hoë frekwensie jou antwoord.

Ek vertrou dat dit die verskille bietjie beter verduidelik

Tot môre

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q
Woensdag 10 Julie 2024

Môre

Nou weet ons al van die verskillende bande en hoekom ons van dit in sekere situasies sal gebruik. Vandag wil ek bietjie gesels oor die verskillende radio's.

Ons almal is bekend met die groter handelsname soos Kenwood, ICOM, Vertex ens maar gedurende die laaste klompie jare word ons oom gebombardeer met 'n horde goedkoop Chinese radio's wat nie noodwendig sleg is nie maar wat nie heeltemal voldoen aan ons vereistes nie.

Die mees populêre hiervan is die Baofeng radio's maar daar is verskeie ander wat geskoei is op dieselfde onderstel. Die radio as sulks is nie noodwendig sleg nie maar die probleem kom daarby dat gebruikers die radio's self kan programmeer en dus is die owerhede nie noodwendig altyd in beheer van die frekwensies wat gebruik word nie.

Dit veroorsaak gereeld dat gelisensieerde gebruikers se regte geskend word omdat mense onwetend self hul radio's instel sonder om die implikasie daarvan te besef. Dan is dit ook so dat hierdie radiotjies besonder gewild is omdat dit baie maklik ingestel kan word op onder andere frekwensies wat deur wetstoepassers gebruik word.

Jy kan sien dat dit net niks goeds voorspel vir ons wetstoepassing agentskappe nie want inligting kan nou baie maklik uitlek. Op die koop toe kan 'n wye verskeidenheid mense toegang kry tot inligting waaruit hul kan munt slaan en dus onwettig baat by sekere aktiwiteite.

Daar is ook 'n ander probleem wat van tyd tot tyd net hierdie radio's ondervind word en dit is dat ons steurings ontvang van hierdie radio's omdat die filter kringe nie na behore funksioneer nie en die uitsendings oorspoel na aangrensende frekwensies.

Vir hierdie doel is daar wetgewing wat bepaal dat alle apparaat wat by magte is om 'n radio sein op te wek, aan sekere vereistes moet voldoen in terme van die filter van die seine. Dit is waar die ICASA type approval ding inkom.

Die aparaat word aan verskillende toetse onderwerp en wanneer dit die toetse slaag word die type approval gegee. Sovêr het baie min van hierdie radiotjies al die type approval geslaag en derhalwe is meeste van die radio's dan "onwettig" .

Die feit dat verskeie handelaars die goed verkoop beteken nie noodwendig dat die apparaat wel aan die nodige vereistes voldoen nie en dus kan jy probleme ondervind al het jy die radio by 'n handelaar gekoop.

Radio kommunikasie kan ontaard in 'n groot mynveld van probleme as mens nie versigtig is en fyn trap nie.

Dawie Conradie

Whatsapp kanaal
https://whatsapp.com/channel/0029VaA4S5IJkK706Vdxhp0Q